Super Rugby: Die vergete era

Die naam Super Rugby is deur die organisasie SANZAR (Suid-Afrika, Nieu-Seeland en Australië Rugby) geskep en eers sowat vyf jaar gelede amptelik aan die toernooi toegedig.


Voor dit was dit Super Ses, Super 10, Super 12 en Super 14.


Vanjaar is die laaste jaar wat 'Super Rugby' uit 15 spanne gaan bestaan. Aanstaande jaar gaan daar meer spanne (18 van hulle) en baie minder SUPER wees.


Daar kan 'n sterk argument vir evolusie en verbetering gemaak word.


Maar wat tans gebeur is erge afwatering.

* For the English version CLICK HERE!!!


Om te verstaan hoekom ek van mening is dat die produk Super Rugby nie rêrig verbeter nie, maar al hoe meer 'n gruwelike minderwaardige produk word moet ons na die geskiedenis van die reeks(e) gaan kyk om te sien waaroor dit eintlik gaan.


Ek gaan by die Super 10 reeks stilstaan - omdat dit is toe Suid-Afrika deel van die produk geword het - maar dit is belangrik dat ek by die oorsprong begin.


Die Super 10 - van 1993 tot 1995 - het sy oorsprong in die Super Ses, die Suidelike-Stille Oseaan-kampioenskap en KANZ reeks gehad. Weens Suid-Afrika se ballingskap het die vorige reekse geen spanne van díe land ingesluit nie.


Die KANZ reeks (met spanne van Kanada, Argentinië en Nieu-Seeland), Suidelike-Stille Oseaan-kampioenskap (drie spanne van Nieu-Seeland; Auckland, Canterbury en Wellington, twee Australiese spanne; Queensland en Nieu-Suid-Wallis en Fidji (wat die Stille Oseaan eilande verteenwoordig het), sowel as die Super Ses (drie spanne van Nieu-Seeland; Auckland, Canterbury en Wellington, saam met twee Australiese spanne; Queensland en Nieu-Suid-Wallis, en weereens Fidji) het gedurende die 1980's en vroeë 1990's plaasgevind.


Beide die KANZ reeks en Suidelike-Stille Oseaan-kampioenskap het 'n stille dood gesterf sonder dat dit te veel opslae gemaak het. Die Super Ses was maar net 'n poging om dit te laat herleef.


Met Suid-Afrika se terugkeer tot internasionale sport was daar egter 'n groot geskarrel in die duiwehok om nuwe lewe aan 'Super Rugby' te skenk.


Die ooreenkoms was dat die Super 10 sou bestaan uit twee Australiese spanne (Nieu-Suid-Wallis en Queensland), vier Nieu-Seelandse spanne (die top vier spanne van die vorige jaar se Nasionale Provinsiale Kampioenskap), drie Suid-Afrikaanse spanne (die top drie spanne van die vorige jaar se Curriebeker-reeks) en die wenner van die vorige jaar se Stille Oseaan Drienasie-reeks tussen Fidji, Tonga en Wes-Samoa.


Nie net was dit 'n opwindende reeks nie - deels omdat Suid-Afrikaanse provinsiale spelers skielik internasionaal kon meeding - maar grotendeels oor die gehalte van die spelers.


Kyk maar net na sommige van die name wat in daardie eerste Super 10 eindstryd op Ellis Park gespeel het - legendes soos Hennie le Roux, François Pienaar, Kobus Wiese, Uli Schmidt, Balie Swart, Eroni Clarke, Va'aiga Tuigamala, Grant Fox, Michael Jones, Zinzan Brooke, Olo Brown, Sean Fitzpatrick en Craig Dowd.


Dit is maar net 'n proeseltjie van die talent wat ons die volgende drie jaar vermaak het.


Selfs daarna, vir die volgende 10 jaar toe dit die Super 12 was, het ons 'n fantastiese produk gesien - na my mening die beste resep wat SANZAR op die tafel kon plaas.


Legendes soos Jonah Lomu, Jeff Wilson, André Joubert, James Small, Gary Teichmann, Jason Little, Tim Horan, John Eales en Ilie Tabua het ons ook vermaak.


Soos ek reeds genoem het, sedertdien is dit gruwelik af-gewater.


Maar kom ons staan so 'n bietjie still by daardie eerste reeks.


Die twee Australiese spanne was Queensland en Nieu-Suid-Wallis, die Nieu-Seelandse spanne was was die provinsiale kampioene Waikato, tesame met die ster-belaaide Auckland span, Otago en North Harbour. Suid-Afrika se verteenwoordigers was die Curriebeker-kampioene Natal, Transvaal en Noord-Tranvaal. Wes-Samoa het die Stille Oseaan eilande verteenwoordig.


Auckland het hul reputasie gestand gedoen en al vier hul wedstryde gewen teen Natal, Wes-Samoa, Queensland en Otago.


Transvaal het ook al hul wedstryde gewen, insluitende die onvergeetlike kragmeting teen Nieu-Suid-Wallis in Sydney.


Dit het ons gebring by die eerste SUPER eindstryd.


'n Volgepakte Ellispark het gesien hoe Transvaal die eerste van hul vier titels daardie jaar verower het toe hulle Auckland met 20-17 geklop het. Dit het 'n prag-drie ingesluit toe Uli Schmidt op pad na die doellyn bo-oor Shane Howarth ge-stormloop het.


Terloops daardie Transvaal span het daardie jaar elke moontlike titel wat hulle kon gewen - Super 10, die Lion-beker uitklop-reeks, die Aandreeks en die Curriebeker-reeks.


Daardie span - onder leiding van afrigter oorlede Kitch Christie en kaptein Francois Pienaar - was ook in 19 agtereenvolgende wedstryde onoorwonne (18 oorwinnings en een gelykopuitslag).


Hoekom is dit belangrik, sal jy vra? Wel, in 'n onderhoud met Christie destyds, toe ek hom gevra het watter van die vier titels die moeilikste sal wees om te behou, was sy antwoord eenvoudig: 'Die Super 10.'


Hoewel hy 'n ongelooflike talentvolle span gehad het, het hy besef hoe SUPER moeilik dit sou wees, siende die talent wat ook in die ander spanne was.

Die volgende jaar, 1994, kon Transvaal nie eers die eindstryd haal nie - wat tussen Natal en Queensland beslis is. Transvaal het wel in die 1995 eindstryd gespeel, maar teen Queensland verloor.


Dit sou 14 jaar neem voor 'n Suid-Afrikaanse span weer 'n Super Rugby titel kon wen - die Bulle in 2007.


Terloops, dit krap my gruwelik om wanneer kommentators en self SANZAR wil voorgee dat die Bulle die eerste Suid-Afrikaanse span was wat 'n Super Rugby titel kon wen.


Sonder om hul enigsins van hul prestasie te ontneem, die Bulle was die eerste SA span in die beroeps-era wat 'n titel gewen het.


Vir die wat dink die Super 10 was 'n minderwaardige reeks. Kyk gerus 'n bietjie na die drie eindstryde en die kwaliteit van die spelers wat daar betrokke was, dan vra jy jouself af hoe dit met sommige van die hedendaagse 'Super Rugby' spanne vergelyk.


Super 10 wenners:


1993: Transvaal klop Auckland 20–17 in die eindstryd op Ellis Park in Johannesburg.


Vir die aanvanklike reeks is Nieu-Seeland deur Waikato, Auckland, Otago en North Harbour verteenwoordig. Die Suid-Afrikaanse spanne was Natal, Transvaal en Noord-Transvaal. Queensland en Nieu-Suid-Wallis was die twee Australiese spanne, terwyl Wes-Samoa die Stille Oseaan-groep verteenwoordig het.


Puntemakers in die eindstryd:


Vir Transvaal:

Drieë: Schmidt 2, Pienaar

Doelskoppe: Van Rensburg

Strafdoele: Van Rensburg


Vir Auckland:

Drieë: Tuigamala, Stensness

Doelskoppe: Fox 2

Strafdoel: Fox


Spanne:


Transvaal: 15 Theo van Rensburg, 14 Pieter Hendriks, 13 Bernard Fourie, 12 Japie Mulder, 11 Chris Dirks, 10 Hennie le Roux, 9 Johan Roux, 8 Deon Lötter, 7 Ian Macdonald, 6 François Pienaar, 5 Hannes Strydom, 4 Kobus Wiese, 3 Johan le Roux, 2 Uli Schmidt, 1 Balie Swart.


Auckland: 15 Shane Howarth, 14 Terry Wright, 13 Eroni Clarke, 12 Lee Stensness, 11 Va'aiga Tuigamala, 10 Grant Fox, 9 Nu Nu'uali'itia, 8 Michael Jones, 7 Mark Carter, 6 Brendan Jackson (deur Zinzan Brooke vervang), 5 Richard Fromont, 4 Robin Brooke, 3 Olo Brown, 2 Sean Fitzpatrick, 1 Craig Dowd.


Skeidsregter: Freek Burger


1994: Queensland het Natal in die eindstryd op Kingspark in Durban met 21–10 geklop.


In 1994 is Nieu-Seeland deur Auckland, Waikato, Otago en North Harbour verteenwoordig. Suid-Afrika se spanne was Transvaal, Natal en die Oostelike-Provinsie. Qyeensland en Nieu-Suid-Wallis was weer die Australiese spanne, terwyl Wes-Samoa weer die Stille Oseaan-groep verteenwoordig het.


Puntemakers in die eindstryd:


Vir Natal:

Drie: Van der Westhuizen

Doelskop: Joubert

Strafdoel: Joubert


Vir Queensland:

Drieë: Lea, Scott-Young

Doelskop: Lynagh

Strafdoele: Lynagh 2

Skepdoel: Lynagh


Spanne:


Natal: 15 André Joubert, 14 Cabous van der Westhuizen, 13 Pieter Müller (hys is deur Andy Marinos vervang), 12 Jeremy Thomson (hy is deur Shaun Payne vervang), 11 James Small, 10 Henry Honiball, 9 Robert du Preez, 8 Gary Teichmann, 7 Andrew Blakeway, 6 Wahl Bartmann, 5 Steve Atherton, 4 John Slade, 3 Adrian Garvey, 2 John Allan, 1 Guy Kebble.


Queensland: 15 Matthew Pini, 14 Damian Smith, 13 Jason Little (hy is deur Paul Carozza vervang), 12 Tim Horan (hy is deur Anthony Herbert vervang), 11 Barry Lea, 10 Michael Lynagh, 9 Peter Slattery, 8 Sam Scott-Young, 7 Ilie Tabua (hy is deur John Eales vervang), 6 David Wilson, 5 Rod McCall, 4 Garrick Morgan, 3 Adrian Skeggs, 2 Michael Foley, 1 Cameron Lillicrap.


Skeidsregter: Glen Wahlstrom


1995: Queensland klop Transvaal 30–16 in die eindstryd op Ellis Park in Johannesburg.


In 1995 is Nieu-Seeland deur Auckland, Canterbury, Otago en North Harbour verteenwoordig. Suid-Afrika se verteenwoordigers was Transvaal, Western Province en die Vrystaat. Queensland en Nieu-Suid-Wallis was steeds daar (Canberra se Brumbies het eers in 1996 die lig gesien) en Tonga het die Stille Oseaan-groep verteenwoordig het.


Puntemakers in die eindstryd:


Vir Transvaal:

Drie: Roux

Doelskop: De Beer

Skepdoele: De Beer 3


Vir Queensland:

Drieë: Connors, Little, Johnstone, Smith

Doelskoppe: Eales 2

Stafdoel: Eales

Skepdoel: Kahl


Spanne:


Transvaal: 15 Gavin Johnson, 14 Jannie van der Walt, 13 Christiaan Scholtz (hy is deur Japie Mulder vervang), 12 Hennie le Roux, 11 Pieter Hendriks, 10 Jannie de Beer, 9 Johan Roux, 8 Rudolf Straeuli, 7 Charles Rossouw, 6 Gerhard Combrinck, 5 Hannes Strydom, 4 Kobus Wiese, 3 Ian Hattingh, 2 Chris Rossouw, 1 Balie Swart.


Queensland: 15 Matthew Pini, 14 Damian Smith, 13 Daniel Herbert, 12 Jason Little, 11 Paul Carozza, 10 Paul Kahl, 9 Peter Slattery (hy is deur Brett Johnstone vervang), 8 Troy Coker (hy is deur Mark Connors vervang), 7 Ilie Tabua, 6 David Wilson, 5 John Eales, 4 Rod McCall, 3 Dan Crowley (hy is deur Matt Ryan vervang), 2 Michael Foley, 1 Andrew Blades. Skeidsregter: Paddy O'Brien


By Jan de Koning

@King365ed

@rugby365com