Stop hierdie SANZAR boelies

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie bevind hulself voor 'n keerpunt in die Superrugby saga. Dit het nou tyd geword dat hulle 'n slag ruggraat wys.


* For the English version of this column, CLICK HERE!


In die verskeie mediaverklarings oor die uitbreiding van Superrugby ná Asië het 'n paar feite in die propaganda verlore geraak.


Voor ons te opgewonde raak oor die nuwe 'wêreld' wat ons gaan betree, moet ons eerder na dié feite kyk.


Wat ek die graagste wil weet is hoe dié Asiatiese span veronderstel is om tot voordeel van die Suid-Afrikaanse konferensie te wees? Ek sien net nadele.


Ek kan gewis nie sien dat dié nuwe rigting wat nou ingeslaan word (die nuwe span) tot die voordeel van spelerwelvaart in Suid-Afrika sal bydra nie!


Die belangrikste is dat die 18de span - wat uit Singapoer of Japan gaan speel - steeds in die Australasiëse tydsone gaan wees. Hoe help dit Suid Afrika, gesiende dat die span in die SA konferensie gaan speel?


Japan is sewe ure voor SA - presies in die middel van die Australiese Weskus (ses ure) en Ooskus (agt ure). Singapoer is ses ure voor SA (dieselfde as die Australiese Weskus).


Maar dit is eerder die bykomende reistyd wat moet kommer wek.


Die Aussies en Kiwis gaan gewis minder reis, want hulle sal SA nie meer so gereeld besoek nie.


Onthou, tans reis SA spanne vir 'n maand lank, eenkeer per seisoen, na Australasië. Dit beteken 'n span sal tussen 11 ure en 18 ure in die lug wees, afhangde van waar sy eindbestemming is - Perth (plus-minus 11 ure), Sydney (+- 15 ure) en Auckland (+- 18 ure). Dan reis jy natuurlik, gedurende die toer, week na week na 'n ander bestemming vir wedstryde, gedurende die toer.


Indien die nuwe span uit Singapoer speel (indien berigte waar is, sal dit net 'n spul spelers uit die Suidsee-eilande wees) gaan Suid Afrikaanse spanne die 9223 kilometers in sowat 12 ure voltooi. Die berekende vlugtyd is gebaseer op 'n reguit lyn - of 'soos die kraai vlieg'.


Om na Japan te reis kan jy dié vlugtyd byna verdubbel - die 13891 kilometers sal minstens 18 ure neem, hoewel sommige vlugte na Japan 22 ure neem.


Neem nou in ag dat die SA spanne ook sowat 11 ure gaan neem om die 7694 kilometers van SA na Argentinië af te lê. Ja, daar is mos ook 'n Argentynse span in die SA konferensie.


Wanneer jy die somme begin maak besef jy wie die ware wenners is ... en dit is nie die SA spanne nie.


Dit is geen geheim dat selfsugtige boelies in Australasië hulle wil en wense reeds jare lank op SARU afdwing. Ek sal seker nie baie gewild wees by die SARU hoofkwartier in die luukse Tygerberg Park naby Kaapstad nie, maar hulle kom maar bra baie papbroekig voor.


William Pulver, die Australiëse Rugby Unie se Uitvoerende Hoof, steek lanks reeds sy tong vir SARU uit. Soos 'n bedorwe brokkie kry hy meestal wat hy wil hê.


Net soos die Rebelle van Melbourne bo die Suidkaapse Konings (ja, die Southern Kings) verkies is, omdat dit glo finansieel meer sin maak, so het Asië die 18de span gekry omdat die Aussie hulle speelgoed uit die spreekwoordelik bababed gegooi het.


Nou word daar gesinspeel dat Japan 'n beter opsie as Singapoer is - omdat daar meer geld is, en dit belangeriker vir die ontwikkeling en uitbreiding van die spel is. Daar word ook na Japan se aanbieding van die 2019 Wêreldbeker-toernooi verwys as 'n belangrike rede hoekom daardie land die 18de span moet kry.


Selfs die oud-Wallaby afrigter Eddie Jones het sy mond gespoel oor hoekom Japan 'n beter opsie is. Ons aanvaar, aangesien hy Japan se nasionale span afrig, dat sy lojaliteit tans in Japan is en dat hy nog 'n wrok teenoor SARU dra, aangesien hulle hom nooit 'n Springbok baadjie gegee het nadat hy by die 2007 Wêreldbeker-oorwinning betrokke was nie.


Voeg nou die jongste uitlatings uit Australia by, waar daar wyd vertel word dat SANZAR se hoofmanne te veel druk op die spelers plaas en dat dit die ondersteuners se geduld glo 'toets'. Hulle glo dat Suid-Afrikaanse administrateurs nie die 'risiko' werd is nie.


Neem jou nou aan, die vennoot wat die meeste geld inbring moet op sy agterent gesool word, sodat Australasië en hul Asiatiese handlangers alleen kan speel.


Nou vra ek maar vir SARU, hoe lank gaan julle nog hierdie boelies duld?


* Terloops, die Aussies wat so spog met hoe goed hul spanne vanjaar in Superrugby vaar, moet hulle nie dalk 'n slag kyk waar die meeste verbetering vandaan kom nie.


Die Perth spannetjie, die Western Force, het agt Suid-Afrikaanse spelers en twee SA afrigters in hulle Superrugby groep. Hulle het so pas hul beste seisoen beleef.


Die Waratahs, wat die eerste plek op die ranglys beklee, klou kliphard aan hulle Suid-Afrikaanse invoer-produk Jacques Potgieter. Dit is nie toevallig dat hul beste seisoen in jare gepaardgaan met 'n ysterman uit die Republiek. Hulle erken ruiterlik dat hy vir die span goud werd is.


Die Brumbies, wat ook in die uitspeelwedstryde is, het vier Suid-Afrikaanse spelers en 'n voormalige SA Onder-21 kaptein in hul geledere.


Die Rebels het 'n spul spelers uit Tonga, Samoa, Japan en selfs een van Engeland, terwyl die Reds net soos hul landgenote swaar op die Suidsee-eilande steun en self 'n speler uit Ierland gewerf het.


Dan het hulle die vermetelheid om vir SA te kom se dié land het nie genoeg spelers om 'n sesde span te ondersteun nie.


Nou wonder ek maar net hoe sterk hierdie spul se spanne gewees het indien hulle net Australiers sou gekies het?


Jan de Koning