Beeldtrofee by Monnas beslis

Monnas bied Saterdag 25 Augustus weer, soos in 2009, die Beeldtrofee-finaal op die Ras van Rooyen veld aan. Soos wat die beleid van die Beeldtrofee is, bepaal die Eerstespan die plek waar die eindstryd sal plaasvind. Monnas se Wit Bulle het Dinsdagmiddag die tafel gedek toe hul met Waterkloof ,op hul tuisveld, afgereken het.


Wat die dag meer spesiaal maak is dat nie minder as drie van Monnas se spanne die finaal gehaal het. Dit is slegs die o/16 span wat met ‘n skrale punt, 18-17 in die halfeindstryd deur Waterkloof getroef is, wat nie Saterdag in aksie sal wees nie.

Die Wit Bulle speel Saterdag teen Kempton Park terwyl die o/14 en o/15 spanne onderskeidelik teen Nelspruit en HTS Middelburg te staan sal kom. Hierdie spanne het albei met Menlo Park in die halfeindstryde afgereken.


Die tellings in die semi-finale was:


Monnas Wit Bulle 23 Waterkloof 12

Monnas o/16 17   Waterkloof 18

Monnas o/15 23   Menlo Park 16

Monnas o/14 15 Menlo Park 12


As die geskiedenis ‘n aanduiding is gaan Chris Massyn weer Saterdag die Beeldtrofee omhoog hou. Dit is Saterdag die 10de geleentheid wat Monnas se Eerstespan die eindstryd van die Administrateurs-/Direkteurs-/Beeldtrofee haal.


In 1939 en 1952 was ons naaswenners. Sedert 1953 is Monnas in sewe eindstryde betrokke  waarvan ons nie een verloor het nie! In 1953, 1979, 2005, 2009 en 2010 wen Monnas die beker en in 1980 en 1984 word die beker met onderskeidelik Hugenote en Affies gedeel. Benewens die prestasies het Monnas ook in 2003 onder die leiding van kaptein, Heinke van der Merwe die Nasionale Media 24 Kompetisie gebuit.


Die Wit Bulle van 2012 is reg om die tradisie voort te sit.


Die seëvierende Monnas Kapteins was:


1953: J Grobler                

1979: Pierre Erasmus

1980: Gerhard Els

1984: Jacques Nieuwenhuys

2005: Warren van Rooyen

2009: Bradley Moolman

2010: Marais Schmidt


Gaan ons Saterdag Chris Massyn se naam by die lys voeg?


Deur Wynand Moolman