CC: Schoonies sink die Wollies-skip

Op Vrydag 4 Mei en Saterdag 5 Mei het die FNB Classic Clash tussen Hoërskool Schoonspruit en Hoërskool Wolmaranstad plaasgevind. Dit was beslis 'n onvergeetlike geleentheid.

Te midde van die geweldige hitte het al die spanne hul beste gegee en het die Schoonies as wenners uit die stryd getree. Die Schoonies het ook pragtig op die pawiljoen gelyk en hulle het beslis die beste gees gehad van die dag.

Die netbal kraai beslis koning en die meisies wen vier uit hul vyf wedstryde teen Wollies. Die 0/14A-span wen 22-9, Melissa Jacobs is die speler van die wedstryd, die 0/15/A wen 20-6, Kotie Laas is die speler van die wedstryd, die 2de span wen 19-8 en Jolene Nagel is die speler van die wedstryd. Die 1ste netbalspan wen met 'n skitterende telling van 26-12. Lu-Handri Fourie is die speler van die wedstryd wat al Wollies se doelpogings gekeer het.

Die 1ste hokkie span-dogters wen met 'n telling van 3-0. Chrisna Burger, Liandrie Botha en Louise Moller teken elk 'n doel aan en Loré v.d Merwe is die speler van die wedstryd.

Schoonie-seunshokkie is beslis nie vir sissies nie! En Schoonies se 1ste span hokkie-manne wen met 'n weghol telling van 10-0! Die speler van die wedstryd is Janus Labuschagné en hy teken vyf doele aan vir die span. Kenzo Schwartz (kaptein) teken drie doele aan en Lee-Roy Bruwer en Vaughn Cadle teken elk een doel aan.

Die rugby manne skrum ook nie weg teen Wollies nie! Die 0/14 A-span wen 32-0, Dirk Griesel is die speler van die wedstryd, die 0/15A-span wen 52-0, Jano van Zyl is die speler van die wedstryd, die 0/16A-span wen 54-5, Jonathan j/v Rensburg is die speler van die wedstryd. Die 2de span verloor ongelukkig met 24-5 en Robert Greyling is die speler van die wedstryd.

Na die voorskou waar albei skole se pom-pom meisies opgetree het en die volkslied gesing is deur Mev. Vanessa Jooste van FNB, gevolg deur beide skole se skoolliede, het die 1ste rugbyspan-manne opgedraf en die kragmeting het begin.

Schoonies se 1ste rugby-span het gewys dat hulle uithouvermoë het en hulle het 100% gegee in die wedsrtyd. Hulle verloor ongelukkig met 'n telling van 24-6 maar hul veggees het beslis van hulle die wenners van die dag gemaak. Stian van Blerk is die speler van die wedstryd.

Die 2012 FNB Classic Clash was 'n reuse sukses en ons bedank graag vir FNB wat die dag moontlik gemaak het sowel as almal wat betrokke was of selfs net die dag saam met ons kom geniet het.

Schoonies wen tennis landloop vir dogters debat and public speaking (Seniors and juniors). Wollies wen skiet, skaak en landloop vir seuns.

Deur Anca Swart