Menlopark maak stem dik

Die afgelope week was weereens propvol rugby en Menlo kan baie tevrede voel met die feit dat nie minder nie as nege O/16-spelers en twee O/18-spelers in die verskillende Blou Bul-spanne ingesluit is.

Ons is baie trots op elke speler en wens hulle alle sterkte toe wanneer hulle nie net ons Bloubul Unie nie, maar ook die skool gaan verteenwoordig gedurende die provinsiale rugbyweke in Julie.

Saterdag was die aankondiging van Blou Bul-spanne egter eers op die agtergrond geskuif en dit was tyd vir Menlopark om met Zwartkop kragte te meet op die rugbyveld.

Die tradisionele ontbyt voor die afskop van die eerste wedstryde, was van die beste en ons Menlo-manne het lekker gesmul aan die heerlike kos. Die holkol op die maag wou egter nie wyk voor die eerste afskopfluitjie geblaas en die senuwees so bietjie bedaar het nie.

Die O/14A's het vanjaar hulle eerste regte toets deurstaan deur 'n gedetermineerde Zwartkop met 18-12 te klop.

'n Puik afgerigde O/15A-span het met goeie kliniese rugby by elke geleentheid gaan afrond en die wedstryd met 38- 0 onder hulle opponente se neuse weggeraap.

Menlo se O/16A-span kon gedurende die eerste helfte nie lekker aan die gang kom nie en Zwartkop het met 'n paar verbroude strafkoppe hulself uit die eerste helfte van die wedstryd gehou. Na halftyd het 'n meer gefokusde Menlo-span op die veld gedraf en die voorspelers het die fondasie gelê vir 'n paar puik agterlyndrieë en Zwartkop deurentyd suksesvol weggehou van Menlo se eie doellyn. Tristan Theron het weereens met akkurate skopwerk die telbord van sy kant af aan die gang gehou en gewys waarom hy een van die O/16 Blou Bul-keuses was. Menlo wen hierdie klipharde wedstryd welverdiend met 27-0.

Menlo het hierdie jaar nou al gewoond geraak dat hul tweedespan van spanning opbou hou en die knoop gewoonlik in die laaste minute deurhaak, maar hierdie keer het die span van die begin af uithaler-rugby gespeel en die heelwat swaarder Zwartkop-voorpelers suksesvol in toom gehou om die wedstryd met 21-16 te wen.

Soos elke week, bly die eerstespanwedstryd maar die naelbyter en hierdie wedstryd het weereens gesorg vir genoeg opwinding en het nie 'n tekort aan senutergende oomblikke gehad nie.

Menlo was egter deurgaans die meer afgeronde span en kan aan die einde van die dag tevrede voel met 'n goeie oorwinning van 32-12 teenoor 'n goeie opponent wat nooit moed opgegee het nie.

Dit is ook nie net die A spanne wat hulle stem dik gemaak het nie. Al die B -en C-spanne, asook derde -en vierdespanne het puik prestasies gelewer.

Menlopark kan tevrede voel met oorwinnings teen al die Zwartkop-spanne en met selfvertroue uitsien na die ligawedstryde wat steeds voorlê.

Weereens was dit 'n dag gekenmerk deur uitstekende rugby en goeie sportmangees!

Komende Saterdag meet Menlo hul kragte in 'n wegwedstryd teen Wonderboom. Baie sterkte aan al die spelers en afrigters met hul voorbereiding gedurende die eksamen!