Secunda weer bo

Saterdag het die finale liga bepalings plaasgevind in die Pumas groot skole rugby liga. Hoërskool Secunda het tuis te staan gekom teen Hoërskool Rob Ferreira van Witrivier.

Albei 0/14A spanne was nog onoorwonne vanjaar en ‘n groot stryd is verwag. Mens kan weekliks by 0/14 wedstryde die verbetering in spel sien soos die seisoen vorder. Die jong seuns moes mekaar eers beter leer ken nadat die meeste van hulle nog laasjaar in verskillende laerskole was. Secunda se 0/14A span wen die wedstryd met 29-10. Secunda se 0/14B span wen sy wedstryd ook met 17-12. Daarna was dit die tweede spanne se beurt om mekaar te takel. Rob het hier die oorhand gehad en wen die wedstryd met 26-17. 

Die twee skole se 0/15A spanne het laasjaar in die 0/14 Pumas finaal teen mekaar te staan gekom. Secunda se span het ook die vorige naweek ‘n groot telling teen Bergvlam aangeteken en die vraag was op almal se lippe, wat sou hierdie jaar gebeur tussen die twee spanne. Secunda het laasjaar die 0/14 finaal tussen die twee spanne met 20-7 gewen. Rob het afgeskop maar was onmiddelik onder druk toe die bal nie die nodige 10 meter getrek het nie. Secunda het teen vinnige pas gespeel en was teen rustyd reeds met 29-7 voor. Die eind telling was 65-7 in Secunda se guns gewees. Spesiale melding moet gemaak word van Christiaan Naude wat vyf drieë gedruk het in die wedstryd. Hy teken 27 punte in die wedstryd aan wat ook 'n doelskop insluit. Die span het in die liga fase 274 punte aangeteken en slegs 29 afgestaan. Dit is duidelik dat hierdie span nie maklik onttroon gaan word van sy titel as Pumas groot skole kampioen nie. Secunda se 0/15 B span wen 34-3. 

Die 0/16A spanne was daarna aan die beurt en Secunda wen die wedstryd met 60-0. 

Die eerste span van Rob Ferreira was nog onoorwonne voor Saterdag en Secunda het net eenmaal vas geval in die liga. Die tafel was dus gedek vir groot aksie en mens kon dit duidelik die spanning op die spelers se gesigte sien wat uit gestap het. Daar was ook baie rou emosie by Secunda se span te sien toe hulle seisoen kaptein Wian Brown hulle uitgelei het in gewone skool klere. Hy het ‘n ernstige knie besering ondergaan wat sy seisoen kort geknip het. Die wedstryd was taai met min genade wat gegee en betoon is weerskante toe. Secunda wen die wedstryd met 23-13.

Die volgende spanne van Secunda was vanjaar onoorwonne in die liga: 0/14A; 0/14B; 0/15A; 0/15B; 0/16A. Die eerste span het slegs een keer vas geval. Hierdie ses spanne van Hoërskool Secunda speel almal komende Saterdag in die Pumas groot skole kwarteind wedstryde op Ermelo.  

Deur Kobus Naudé