Torries toor met HTS
Hoërskool Waterkloof het twee spanne in die stryd om 1ste plek in die NuPower Tuks kompetisie gehad.
Waterkloof se 1ste span het Centurion aangevat in die stryd van die eerste spanne en Klofies se Tornados (Torries) het Hoër Tegniese Skool Middelburg se tweede span in die finaal van die NuPower Tuksreeks se tweede spanne gekry. Die Torries het in die stryd teen HTS Middelburg met 28-22 koning gekraai.
In die stryd van die tweede spanne het die weegskaal in terme van gebeidsvoordeel, het grootliks aan Waterkloof behoort. Albei spanne het van strafskoppe gebruik gemaak om punte op die telbord te sit. Alhoewel Waterkloof die meeste balbesit gehandhaaf het, het hulle nie altyd hulle kanse in punte omskep nie. Waterkloof het op meer as een geleentheid die bal in HTS se gebied verloor weens omgekeerde balbesit.
Daar was reeds ses strafskoppe in die eerste helfte toegedien. Waterkloof se losskakel, Dylan du Buisson, het twee van sy vier strafkoppe oorgeskop.
In die 24ste minuut het die haker van Torries, Reinach Venter, HTS se doellyn besoek. Buisson het die drie verdoel. Kort voor rustyd is Venter weens 'n gevaarlike duikslag, van die veld af met 'n geelkaart. HTS Middelburg het in die 34ste minuut 'n drie wat deur die loskopstut , Joseph Potgieter, gaan druk. Die losskakel, Juandre Schmidt, het die drie verdoel.
Die rustydtelling was 13-10 vir Waterkloof.
Die Middelburgers se slot, Zander Taljaard, het in die eerste vyf minute van die tweede helfte 'n drie onder die pale gaan afstempel. Die plaasvervanger, Colin Cambell, het in diie 66ste minuut HTS se derde drie van die wedstryd gaan druk. Schmidt het twee punte bygevoeg. HTS het goeie druk op die Torries uitgeoefen en hulle hard vir die wen in hulle sakkie laat werk.
Klofies se vleuel, Jermaine Kleinsmith, het in die 56ste minuut, in die linkerkanste hoekvlag, gaan druk. Kleinsmith het gereeld oor die voordeellyn gebreek en baie veld vir sy span gewen. Die spoed van die vleuel het ook 'n impak op die wedstryd gehad. Hy het meer as 50m met die bal gehardloop om die laaste drie van die kragmeting aan te teken. Die agsteman, Ernst Naudé het ook in dié spel uitgestaan om deur spasies van sy opponente te breek.
Jaco van Wyk, afrgter van die Torries, was in sy skik met sy span se vertoning in die wedstryd.
“Ons het hard vir die finaal voorberei. Ons wil net die Here dank vir die geleentheid om in die finaal te kon speel. Die span het in hulleself geglo en dit is altyd lekker om 'n finaal te kan wen.”
In die stryd van die 1ste spanne het Hoërskool Centurion het deur 'n kliniese vertoning in die NuPower Tuksreeks-finaal, Hoërskool Waterkloof in 'n naelbyt-eindstryd met 49-47 geklop.
Die teleurstelling op die Klofies se gesigte was duidelik, maar die leerders van die wenskool het na die blaas van die eindfluitjie op die veld gehardloop om hulle span geluk te wens.
Die wedstryd kan gekenmerk word aan albei skole se verdediging wat nie op standaard was nie. Baie strafskoppe is aan albei spanne toegeken en daar was deurgans hanteerfoute in die wedstryd gemaak.
Daar is reeds in die eerste helfte ses drieë aangeteken met die rustyd telling wat 23-29 in Hoërskool Centurion se guns was. Vier van die ses drieë is deur Centurion gedruk met die heelagter Jaco Hayward wat die eerste drie in die 18de minuut van die wedstryd aangeteken het. Die flank, Thabo Mabuza, het die tweede drie vir sy skool gedruk.
In die laaste vier minute van die eerste 40 minute het die skrumskakel, Goerge-Lee Erasmus, en die haker, Heinrich de Jong, albei drieë agter Waterkloof se doellyn gedruk. Die losskakel, Jeandre Pitzer, het drie van die vier skoppe verdoel en een van twee strafskoppe deur die pale geskop.
Klofies was reeds in die agtste minuut op die telbord deur 'n strafskop wat die losskakel, Kobus Marais, oorgeskop het. Marais het sy skopskoen aangehad en het altesaam 22 punte aangeteken. Die Bloues het eers in die 27ste minuut hulle eerste drie deur, Raynhart Honiball, wat twee drieë in die wedstryd aangeteken het, gedruk. In die laaste minuut van die eerste helfte het Klofies se senter Rohan Janse van Rensburg sy eerste van twee drieë aangeteken.
Waterkloof se rugbyspanne was verlede jaar algeheel tweede in die NuPower Tuksreeks.
Kloof het in die tweede helfte drie drieë onderskeidelik deur die flank, Shaun Pike, Janse van Rensburg en Honiball aangeteken. Die skrumskakel, Justin Phillips, het van hoë skoppe gebruik gemaak en die bal goed opgevolg.
Die eerste drie in die tweede helfte is deur Centurion se senter, Chad Mckay gedruk. Mckay het ook die wendrie vir sy skool in die 41ste minuut aangeteken. Pitzer het net een van dié drieë verdoel.
Waterkloof en Centurion het vir die eerste gespeel.
Uitslae:
Eerste spanne
Centurion vs Waterkloof, 49- 47
EG Jansen vs Nelspruit, 34- 26
Kempton park vs HTS Middelburg, 19- 12
Florida vs Pietersburg, 24- 23
Eldoraigne vs Klerksdorp, 26-17
Transvalia vs Rustenburg, 31-18
Onder-16
Monnas vs EG Jansen, 27-14
Kemptonpark vs Transvalia, 18-8
Centurion vs Klerksdorp, 27-17
Marais Viljoen vs PHS, 24-17
Waterkloof vs HTS Middelburg, 34-10
Eldoraigne vs Nelspruit, 21-7
Onder-15
Monnas vs EG Jansen, 32-7
HTS Middelburg vs Marais Viljoen, 23-21
Florida vs Transvalia, 13-11
Pietersburg vs Rustenburg, 36-5
Kemptonpark vs Waterkloof, 20-12
Onder-14
Monnas vs Kemptonpark, 32-0
Klerksdorp vs Rustenburg, 13-5
Florida vs Eldoraigne, 10-8
Waterkloof vs HTS Middelburg, 28-22
Pietersburg v EG Jansen, 19-15
Ermelo v Marais Viljoen, 19-18
Deur Carli Koch