Bastion en 'Drom' in UJ finale

Die manne van Bastion en Dromedaris het gekwalifiseer vir die finale van beide die eerste en tweede divisies van die 2009 UJ Steinhoff International Koshuisliga.

In die eerste divisie het Bastion automaties gekwalifiseer omdat hulle bo-aan die punteleer geïendig het ná die dubbelronde westryde.

Hulle is onoorwonne en sal poog om dit só te hou wanneer hulle Woensdagaand in die finaal teen die manne van Dromedaris speel.

Dromedaris het verlede Woensdagaand met 'n gemotiveerde Oppierifspan afgereken om tot die finaal deur te dring en het hulle met 17-10 geklop.

'Drom' het die UJ vroeër vanjaar in die Varsity Cup Koshuisliga verteenwoordig en het slegs in die finaal vasgeval teen 'n sterk Huis Armentum-span van Bloemfontein.

Die span wat Woensdagaand die beker lig gaan nie net kan spog as die UJ se Koshuisliga wenners van die jaar nie, maar ook die UJ in die 2010 Steinhoff Koshuisliga verteenwoordig.

In die tweede divisie-finaal speel dieselfde twee koshuise se tweede spanne teen mekaar. Bastion het Woensdagaand gemaklik met 30-7 teen die nuweling DFC geseëvier, terwyl 'Drom' hard moes werk om uiteindelik die UJ O19B-span 25-23 te klop.

Dié twee koshuise het hierdie rugbyseisoen amok gemaak en bewys hoekom hulle as die rugbykoshuise bekend staan by die UJ.

Die tweede divisie-finaal skop Woensdagaand 19.00 op Milopark af en direk daarna (20.00) is dit die groot finaal van die eerste spanne.

Ná die wedstryde gaan die UJ Steinhoff International Barbarian span ook aangekondig word en hulle truie aan hulle oorhandig word.

Ansu Colditz, Rugbybestuurder van die Universiteit van Johannesburg, nooi almal uit om die aand te kom geniet nou dat die ergste koue en winter verby is.

Daar gaan 'n biertuin wees om die ergste dors te les, en daar gaan ook pryse aan toeskouers en koshuise uitgedeel word deur die aand.

Deur Riaan Bam