Die finaal: Dagbreek se perspektief
Dagbreek en Vishuis het Maandag, 29 Maart teen mekaar gespeel in die 2010 Steinhoff Koshuisliga Finaal, in die Danie Craven Stadion. Dit was 'n perfekte dag vir rugby en die tafel was gedek vir 'n stryd tussen die twee sterkste spanne van die kompetisie.
Aan die einde van 'n titaniese stryd tussen die twee spanne het Vishuis egter as oorwinnaars uitgetree.
Dagbreek het weer goeie aanvallende rugby gespeel, maar kon nie hul geleenthede afrond nie. Vishuis het hul kanse beter benut en dit in punte omgeskakel. Vishuis het twee ongeantwoorde drieë in die eerste helfte gedruk en nog een in die tweede helfte. Dagbreek het egter nooit opgegee nie en hul harde werk is beloon met 'n drie deur vleuel Danie Kritzinger in die laaste minute van die wedstryd.
Dagbreek is 22-7 geklop deur Vishuis wat op die dag 'n beter span was. Baie geluk aan die span van Bloemfontein en dankie vir die goeie sportmanskap en kompetisie.
Baie dankie aan Steinhoff en al die ander borge vir die geleentheid om in so 'n kompetisie te kon deelneem, dit was 'n wonderlike ondervinding vir die Dagbreek span. Dit was vir ons 'n eer en voorreg om deel te neem aan 'n landswye kompetisie wat gekenmerk word deur die feit dat slegs lede van hul onderskeie koshuise speel, en so die koshuiskultuur en -kompetisie tussen die verskillende kampusse te laat groei.
Dankie aan Maties vir hul ondersteuning en hulp deur die loop van die kompetisie en baie geluk aan ons Maties span wat weereens die beker gewen het!
Deur Albert van der Merwe