Groot opwinding in Huis Armentum
Groot opwinding heers in Huis Armentum voor sy eerstespan Maandag tuis in 'n halfeindstryd-kragmeting teen Maroela van Tukkies te staan kom.
Armentum het vir die uitspeelronde van die Steinhoff Koshuisrugby Kampioenskap gekwalifiseer deur ál drie sy wedstryde te wen en is saam met Dromedaris (UJ) die enigste twee onoorwonne spanne in die kompetisie.
De Wet van der Walt, Armentum se huiskomitee-lid vir sport, sê almal in die koshuis het Armentum se vertonings tot dusver met groot belangstelling gevolg.
"Met elke wegwedstryd moes een van die spanbestuurslede die koshuis bel om die telling te gee. Dít is dan oor die interkom aan almal verkondig - met groot vreugde," het Van der Walt verduidelik.
Hy sê daar heers 'n wonderlike gees voor Maandag se wedstryd en dat die hele koshuis langs die veld sal wees om die span te ondersteun. "Ons beplan nie te veel aktiwiteite vir Maandag nie. Hoe minder sideshows, hoe beter die rugby," het hy gesê.
Die Armentum-inwonders sal dus maar moet hoop niks loop Maandagmiddag in die koshuis verkeerd nie, want daar sal niemand wees om die probleem te ontlont nie - almal sal op Shimlapark wees!
Armentum se twee ander spanne sal ook in voorwedstryde in aksie wees. Om 4nm speel Armentum III teen Tswelopele en 5.30nm is dit Armentum II teen Veritas I.
Intussen het Armentum se afrigter Willem Kruger vir die eerste maal in die kompetisie 'n onveranderde span aangewys. Dit behoort niks goeds vir Maroela te voorspel nie.
Huis Armentum: 15 Kobus Neethling, 14 Michael Bosch, 13 Morkel Hoffmann, 12 Jannie Myburgh, 11 Gareth Lourens, 10 Inus Kritzinger, 9 Enrico Schultz, 8 Johnny Schoeman, 7 Dedrik Pretorius (captain), 6 Niekie Potgieter, 5 Joubert Horn, 4 Michiel de Wet, 3 Ian Potgieter, 2 Toffie van Tonder, 1 Cobus Greeff.
Plaasvervangers: 16 Herman van der Watt, 17 Chris Mans, 18 Thys-Koch Burden, 19 Mynhardt van der Walt, 20 Pieter van Zyl, 21 Janneman Kotzé, 22 JP van der Berg.
Hoofafrigter: Willem Kruger
Hulpafrigter: Albert Parsons
Afskop: Maandag, Maart 23, 7nm, Shimla Park (Universiteit van die Vrystaat se hoofkampus)
Deur Ruan Bruwer