Heimat die gunsteling, ondanks terugslag

'n Reuse terugslag het Heimat op die vooraand van die Steinhoff Kovsie Koshuisliga-eindstryd getref met die onttrekking van sy staatmaker-vleuel, Neethling Uys.

Uys het nie genoegsaam van 'n kniebesering (wat hy verlede naweek teen JBM opgedoen het) herstel nie en sy plek word deur JJ Oosthuizen ingeneem.

Heimat (voorheen Reitz) het danksy sy eerste posisie op die puntelys 'n 13de jaar agtereenvolgens vir die eindstryd gekwalifiseer (waarvan hulle agt titels gebuit het).

Hy sal Vrydag danksy sy seges oor Vishuis in die groepsfase (32-20 en 22-10) as die gunsteling op Shimlapark uitdraf.

Heimat se sterk punt is sonder twyfel sy goeie verdediging. Hy het in 12 wedstryde slegs 16 drieë afgestaan, by verre die minste van al die spanne en 15 minder as Vishuis se 31.

Maar Vishuis se 35 drieë wat hulle deur die seisoen gedruk het, is weer vyf meer as Heimat se 30.

Maurice Ambrose, flank en kaptein van Heimat, is egter versigtig optimisties oor hul gunsteling-status.

Hy is Heimat se derde kaptein vanjaar nadat Pieter van der Berg en Boer van Niekerk (albei losvoorspelers) vroeër die span aangevoer het.

Vrydag sal slegs Ambrose (foto, regs) se derde wedstryd as kaptein wees.

"Jy kan nooit bepaal wat in 'n eindstryd gaan gebeur nie. Só 'n wedstryd kan enige kant toe swaai.

"Ons het al in die verlede twee keer teen 'n koshuis in die groepsfase gewen, net om dan in die eindstryd te verloor," het hy gewaarsku.

Reitz was ook verlede jaar die gunsteling teen Armentum, maar dinge het daardie aand lelik skeefgeloop en Reitz het 10-11 verloor.

Volgens hom gaan hulle nie juis vandeesweek baie verander aan dít wat hulle tot die eindstryd gebring het nie.

"Die eindstryd is waarna ons die hele seisoen gewerk het; al die opofferings en harde werk kom nou Vrydag tot 'n hoogtepunt," het Ambrose gesê.

Ook Vishuis is hard getref met twee onttrekkings. Vleuel Divandré Strydom en agtsteman Niel Kapp is opgeroep vir die Vrystaat se o.19-span en kan dus nie vir Vishuis diens verrig nie. Dries Ludeke speel nou linkervleuel met Martin Ferreira wat op agtsteman gekies is.

Vishuis, onder die kapteinskap van Waldo Krogh (foto, links) speel in hul eerste beker-eindstryd sedert 1983. Hulle het wel verlede jaar die plaat-eindstryd (om die derde plek) gewen.

Die spanne is:

HEIMAT: Nielbert Kitching, Daniël Krynauw, André Malherbe, Francois Crous, JJ Oosthuizen, Mindus Crous, Ernst Boshoff, Nelis Eksteen, Maurice Ambrose (k), Pieter van der Berg, Gerrie Schoeman, Hansie Moolman, Lood Buchner, De Wet Dreyer, Werner Marais.

VISHUIS: Waldo Lategan, Bennie Pretorius, Waldo Krogh (k), Jan du Toit, Dries Ludeke, Willem Conradie, Riaan du Toit, Martin Ferreira, Charl du Toit, Eben van Zyl, Jan Momberg, Jaco Lamprecht, Richard Harris, Cobus van der Westhuizen, Henri van Niekerk.

* Die program vir Vrydag se eindstryde (alle wedstryde op Shimlapark):
15:30 - Derde liga: Armentum teen Karee
17:00 - Plaat: JBM t. Armentum
18:30 - Tweede liga: Armentum t. Tswelopele
20:00 - Eerste liga: Heimat t. Vishuis

* Die wenners van die Koshuisliga sedert 2000 is: 2000 - Reitz; 2001 - Verwoerd (Armentum); 2002 - Reitz; 2003 - Reitz; 2004 - Karee; 2005 - Reitz; 2006 - Reitz; 2007 - Reitz; 2008 - Armentum.

Deur Ruan Bruwer