Heimat maak hul stemme dik

Heimat het met sy sege Donderdagaand oor Vishuis 'n ondubbelsinnige boodskap aan die ander rugbyspanne in die Kovsies' Steinhoff Koshuisliga gestuur.

Met heelparty van sy universitietspelers beskikbaar, gaan dié span moeilik gestuit word.

Heimat het met sy 32-20 oorwinning oor 'n ewe sterk Vishuisspan (wat self heelparty topspelers in sy geledere gehad het) weer die eerste posisie op die puntelys ingeneem.

Hy het dit teen die einde van verlede kwartaal aan JBM afgestaan.

Ofskoon Vishuis 'n 17-0 voorsprong opgebou het, kon hy nie die pas tot die einde volhou nie.

Vishuis het die eerste kwart gespeel asof hulle lewens daarvan afgehang het en twee keer gaan druk.

Heimat het weer die oorhand in die tweede helfte begin kry en nooit sy wurggreep verloor nie.

Die wenspan kon sy rekening eers ná 30 minute open met 'n onderskep-drie.

Jan du Toit, losskakel van Vishuis, het te lank aan die bal geklou en sy aangee is deur Boer van Niekerk (flank) onderskep wat met sy uitsonderlike spoed te vinnig vir Vishuis se dekverdediging was.

Die agterstand (7-17) is kort voor rustyd verder uitgewis danksy 'n mooi drie deur Heimat se alomteenwoordige flank, Maurice Ambrose.

Mindus Crous (heelagter) het 'n goed berekende skop opgevolg en sy broer Francois aan sy binnekant gevoer wat vir Ambrose in ondersteuning gevind het om onder die pale af te rond.

Die nat veld (weens dou) het tot heelwat hanteerfoute gelei en een só 'n kritieke aanslaan het Vishuis kort ná rustyd van 'n sekere drie weerhou.

Met 'n doellyn wat wink kon Dries Ludeke, linkervleuel, egter nie 'n aangee op sy tone bemeester nie.

Die wedstryd was geensins 'n skouspel soos vooraf verwag is nie met albei spanne wat eerder gebiedsvoordeel met die voet wou probeer bewerkstellig.

Die hangskoppe was egter nie altyd baie doeltreffend nie.

Vishuis se balbesit by die afbreekpunte is telkens óf stadig gemaak óf afgeneem met Ambrose en Van Niekerk wat uitstekend meegeding het.

Hoewel Vishuis aggressief verdedig het en 'n paar maal sy teenstander teruggeduik het, was Heimat se aanhoudende druk eenvoudig te veel en moes die verloorspan se verdedigingslinie later meegee.

Die wedstryd was op 27-20 nog in die weegskaal, maar 'n puik breekslag deur Zian Neethling (foto), Heimat-skrumskakel, het die wedstryd verseël en 'n bonuspunt vir vier drieë verseker.

Puntemakers: Heimat 32 (14), Vishuis 20 (17). HEIMAT - Drieë: Boer van Niekerk, Maurice Ambrose, André Malherbe, Zian Neethling. Doelskoppe: Mindus Crous (3). Strafdoele : Crous (2). VISHUIS - Drieë: Riaan du Toit, Henry van Niekerk. Doelskoppe: Jan du Toit (2). Strafdoele: Du Toit (2).

* Veritas kon ondanks 'n 7-0 rustyd voorsprong nie daarin slaag om Karee tot oorgawe te dwing nie.

Sake het vir Veritas in die tweede helfte begin skeefloop en moes uiteindelik die knie 7-14 buig in 'n naelbyt-stryd.

'n Klompie beserings in die tweede helfte het Veritas erg ontwrig wat tot gevolg gehad het dat die samespel begin lol het.

Dit het Karee die nodige momentum gegee om die wedstryd te beklink.

Daarmee is Veritas se skrale kanse om nog die koshuisliga-eindstryd te haal, 'n finale knou toegedien.

Vir Karee was dit weer 'n uiters waardevolle oorwinning wat hom nog in die prentjie vir 'n plek in die eindstryd hou.

Puntemakers: Karee 14 (0), Veritas 7 (7). KAREE - Drie: Alec McKenzie. Strafdoele: Jacques van der Heever (3). VERITAS - Drie: Wimpie Fourie. Doelskop: Danie Cronjé.

* JBM het al sy kanse benut om 'n indrukwekkende 32-16 sege oor Armentum te behaal.

Elke keer wat die wenspan Armentum se gebied betree het, het hy met punte teruggekeer.

Armentum aan die ander kant was weer onder reuse druk deur 'n dominerende JBM-skrum geplaas en is ook in sy eie gebied vasgepen.

Hoewel sake met die omdraaislag nog baie gelyk was (Armentum 9-6 voor) het JBM stelselmatig die hef in die hand begin kry en die telbord met reëlmaat laat omrol het.

Dít het JBM die vryheid gegee om die bal meer rond te gooi wat uitgeloop het op twee drieë.

Die oorwinning is verder moontlik gemaak deur drie skepdoele (twee deur Jacques Roberts en een deur David van der Vyver.

Puntemakers: JBM 32 (6), Armentum 16 (9). JBM - Drieë: JC van Wyk, Christiaan Reynolds. Doelskoppe: Roelof Joubert (2). Strafdoele: Joubert (3). Skepdoele: Jacques Roberts (2), David van de Vyfer. ARMENTUM - Drie: Kobus Neethling. Doelskop: Reinhart Erwee. Strafdoele: Erwee (3).
 
Voorste puntemakers:
Mindus Crous (Heimat) - 50
Cobus van der Westhuizen (Vishuis) - 43
Roelof Joubert (JBM) - 39
Dries Ludeke (Vishuis) - 30
Stefan Terblanché (Armentum) - 26
Jaco Carstens (Karee) - 25
 
Voorste driedrukkers:
Dries Ludeke (Vishuis) - 6
Johan Brune (Vishuis) - 4
Jaco Carstens (Karee) - 3
Roelof Joubert (JBM) - 3
Daniël Krynauw (Heimat) - 3
Frans Smit (Karee) - 3
Pieter van der Berg (Heimat) - 3

Deur Ruan Bruwer