'JBM kan beter as vyfde plek'
Hendrik Conradie, JBM se sport-HK, sê hy glo sy koshuis se eerste span kan in 2009 op sy vyfde plek van verlede jaar verbeter.
En hulle is tot dusver goed op pad om daardie doelwit te bereik in die '09 Steinhoff Kovsies Koshuisliga. Hulle lê tans gesamentlik tweede op die puntelys en het reeds goeie seges oor Vishuis en Veritas behaal.
"Ek glo ons is beter daaraan toe as verlede jaar hierdie tyd toe ons met baie beserings gesukkel het."
Conradie sê daar is vanjaar heelwat ervaring in die groep met ses nuwelinge wat 'n goeie balans skep.
"Ons is in die bevoorregte posisie dat ál ons spelers wat verlede jaar K1 gespeel het vanjaar weer beskikbaar is."
Die nuwelinge in die groep sluit in Gillie Lötter (slot), Hermie Ferreira (flank), Johré Els (skrumskakel), N.T. Venter (losskakel) en Dirk Dippenaar (senter). "Ek glo Lötter, Ferreira en Els is dié spelers wat baie potensiaal toon en nog baie vir JBM kan beteken."
Conradie sê daar is vanjaar ook heelwat meer diepte in die groep. "Ons het tot ses voorspelers wat om een posisie meeding," het hy gesê.
"Dan speel omtrent 80% van die eerstejaars almal rugby wat die diepte nog verder sal versterk.
"So ons is baie gelukkig," het hy bygevoeg.
JBM sal weer, soos in 2008, drie spanne in die liga inskryf.
Janco Holtzhausen (haker en kaptein) kan vanjaar een van sy span se groot staatmakers wees. So ook agtsteman Roelof Joubert wat 'n baie fisieke speler en 'n sterk baldraer is. Hy misluk selde om sy span oor die voordeellyn te kry.
Agterlangs is David van de Vyfer (heelagter) baie gevaarlik op teenaanvalle en breek gereeld deur sy teenstanders se verdedigingslyn.
Daar word vanjaar groot dinge van hom verwag.
Ettiene Terblanché, Bertus Bester, Anthony Jevu en Jacques Roberts (Irawas), Charles Marais en JC van Wyk (albei Shimlas) is almal spelers wat JBM in die tweede helfte van die kompetisie heelwat kan versterk.
Hieroor is Conradie baie tevrede. "Ons sal baie ervare manne kan inspan, iets wat ons nie verlede jaar beskore was nie."
Hy sê realisties mik hulle na 'n plek onder die drie beste spanne.
"Tog is die eindstryd mos maar waarna almal mik. Ek glo ons is goed op pad daarheen met ons goeie begin teen 'n sterk Vishuis-span."
Conradie het onthul dat die span se ster-losskakel Nakkie Holtzhausen weens harsingskudding nooit weer sal kan rugby speel nie.
"Dit is 'n baie groot terugslag wat ons diepte op losskakel nog verder sal uitdun."
Die span se sterk punt is sy goeie pak voorspelers wat die span op die voorvoet sal kry.
JBM het sedert 2000 gereeld die plaat-trofee (derde plek) gewen (2000, 2001, 2003, 2004, 2006), maar kon nie in dié tydperk die grote (K1-beker) wen nie.
Die groep is:
Voorspelers: Carel van Aswegen, Janco Holtzhausen (kaptein), Louw du Toit, Johan van Niekerk, Tuby Tyrone, Gillie Lötter, Petri Akkerman, Hermie Ferreira, Christiaan Reynolds, Roelof Joubert en Willem Badenhorst.
Agterspelers: Johré Els, Jaco Potgieter, N.T. Venter, Nakkie Holtzhausen, Ashley Byles, Douminique van Deventer, Jean Goosen, David van de Vyfer, Rupert Vermaas, Dirk Dippenaar en Danie Strauss.