Kookwater Koshuisrugby by Shimlas!

Kookwater, tops, uit die boonste rakke. Dit is byvoeglike naamwoorde wat sportskrywers en joernaliste gebruik om goeie wedstryde aan hul lesers te beskryf.

Verlede Donderdagaand se Steinhoff Koshuisrugby op Shimlas was geen uitsondering nie. Die wedstryde wat gewoonlik op 'n Vrydagaand plaasvind, is verskuif om plek te maak vir die kleinsêr-eindronde wat plaasgevind het.

Vishuis wat boaan die punteleer is, het teen Karee, wat die laaste plek beklee, testaan gekom. Die Varsitybeker-kampioen het sy gewone aanvallende rugby gespeel.

Vishuis het sy groot losvoorspelers gebruik om Karee se verdedigingslinie met gevaarlike lopies te beproef en die bal dan vinnig na sy vleuels gestuur. Dié taktiek het goed gewerk en die wenspan het vier drieë ingeryg.

Karee het nie die balbesit wat hy gekry het ten volle benut nie. Hy het verskeie kere binne Vishuis se kwartgebied met goeie fases vorendag gekom, maar dit deur ongedwonge foute ongedaan gemaak. Die twee drieë wat Karee aangeteken het, het juis gekom nadat hy verskeie fases aanmekaar gesit het.

JBM en Heimat het mekaar ook die Stryd aangesê. Laasgenoemde wou voortbou op verlede week se goeie oorwinning oor Veritas.

JBM het egter 'n stokkie daarvoor gesteek en 25-23 met die kous oor die kop huistoe gestuur. Heimat was teen rustyd nog aan die stuur van sake en het gemaklik 20-13 voorgeloop.

Die skopskoen van Roelof Joubert, agsteman van JBM, was egter die verloorspan se doodsteek. Joubert het 20 punte tot sy span se eindelike telling bygedra. JBM is nou gemaklik in die tweede plek op die puntelys.

Die kragmeting tussen Veritas en Armentum was 'n naelbytstryd.

Albei spanne het uitmuntende veggees ten toon gestel en tot met die eindfluitjie alles in die stryd gewerp.

Ondanks 'n strafdrie wat hy afgestaan het, het Veritas 28-27 as oorwinaar uit die stryd getree. Robbie Heuer, regtervleuel van Armentum het twee indrukwekende drieë gaan druk.

Al die puntemakers:

Vishuis (24): Drieë: Gerhard Meyer, Divandré Strydom, Bennie Pretorius, Barend Landman. Doelskoppe: Erick Colyn (2)
Karee (10): Drieë: Drean Hugo, Johan Wolhuter

JBM (25): Drie: Pieter Coceran. Doelskop: Roelof Joubert. Strafskoppe: Joubert (6)
Heimat (23): Drieë: Boer van Niekerk, Jannie van den Berg. Doelskoppe; Eben Olivier (2). Strafdoele: Olivier, Van Niekerk. Skepdoel: Mindus Crous

Veritas (28): Drieë: Werner Senekal, Schalk Malherbe, Gerrit Smuts. Doelskoppe: GJ Brits (2). Strafdoele: Brits (3)
Armentum (27): Drieë: Robbie Heuer (2) Strafdrie. Doelskoppe: Jaco Henning (3) Strafskoppe: Henning (2)

Deur Tian Malherbe