Kovsies Koshuis aksie vuurwarm!

Aksie in Kovsies se rugby-koshuisliga is nou vuurwarm en het ook baie aansien gekry met die universiteit se spelers wat nou vir hul Steinhoff Koshuisspanne in aksie is.

In Donderdagaand se wedstryd tussen die voorste spanne op die puntelys, Heimat en Vishuis, was dit baie duidelik dat die standaard effens gelig is deur die teenwoordigheid van dié spelers.

Niemand was beter as Boer van Niekerk, Shimla-losvoorspeler, nie.

Hy het Vishuis probleme gegee met sy spel op die grond en was by die afbreekpunte 'n groot doring in Vishuis se vlees.

Ook Vaatjie Koorsen (losskopstut) en Lebo Zietsmann (slot), wat vanjaar vir onderskeidelik Shimlas en Irawas in aksie was, het Heimat se voorhoede verdere stukrag gegee.

Heimat lyk na dese as 'n baie sterk mededinger vir die gesogte K1-beker.

Hy lê nou boaan die puntelys met 24 ligapunte, gevolg deur Vishuis op 21.

JBM (20) het met sy sege oor Armentum sy posisie in die derde plek verstewig en sodoende die gaping tussen hom en Armentum (in die vierde posisie) vergroot.

Armentum sal vinnig terug op die wenpad moet kom as hy sy titel wil verdedig. Dinge raak ook geensins makliker met Heimat wat Vrydag op hom wag nie.

'n Vyfde nederlaag vir Armentum kan sake vir hom erg bemoeilik om tot die eindstryd deur te dring.

Wedstryde tussen dié twee spanne was die afgelope klompie jare baie mededingend en behoort weer vuurwerk te veroorsaak.

Ook Vrydag op Shimlapark takel Vishuis en Karee mekaar.

Karee moet eenvoudig wen om in voeling met die voorlopers te bly, terwyl Vishuis vir sy nederlaag sal wil vergoed.

JBM behoort ná sy puik sege oor Armentum vyf ligapunte in gedagte te hê wanneer hy teen Veritas te staan kom.

Laasgenoemde sukkel steeds om sy eerste sege te behaal en kan sukkel teen 'n JBM-span wat nou kookwater-rugby speel.

Vrydag se bepalings is:
18:30: Heimat t Armentum - Shimlapark
20:00: Vishuis t Karee - Shimlapark
20:00: Veritas t JBM - Veld 5

Die puntelys is:
(gespeel, gewen en ligapunte)
Heimat 7, 5, 24
Vishuis 7, 4, 21
JBM 7, 5, 20
Armentum 7, 2, 14
Karee 7, 2, 11
Veritas 7, 0, 2