Kovsies Koshuis: Dis Heimat teen...

Dis amptelik... Dis Vishuis teen Heimat in die Kovsies Steinhoff Koshuisliga-eindstryd.

Vishuis (foto) wat met JBM in 'n gespook om die oorblywende plek in die eindstryd was (Heimat was reeds voor die naweek verseker van sy plek), het tot die eindstryd deurgedring danksy 'n 36-19-sege oor Veritas Donderdagaand.

Veritas het die eerste slag geslaan met 'n drie deur Johan van Schalkwyk (senter). Dries Ludeke, haastige vleuel van Vishuis, het die gelykmaker aangeteken.

Veritas moes in daardie stadium met 14 spelers klaarkom nadat William de 'Ath, losskakel, koelkas toe gestuur is. Niel Kapp, indrukwekkende agtsteman van die wenspan, se naam was volgende op die telbord, 'n drie wat deur Divandré Strydom, senter, bewerkstellig is.

'n Minuut voor rustyd was dit 'n stukkie briljante spel deur Lategan wat Strydom se drie aangevoer het.

Veritas is absoluut vermorsel in die skrums en het verbasend goed kopgehou.

Veritas het soos in die eerste helfte eerste bloed ná die omdraaislag geruik met De 'Ath wat twee Vishuis-verdedigers na lug laat gryp het en 'n netjiese drie gaan druk het.

Hy het heelmiddag die voordeellyn met mening aangeval. Charl Schultz se doelskop het Veritas terug in die prentjie gebring en hulle was slegs 12-17 agter. Die belangrike bonuspunt-drie vir Vishuis was nadat De 'Ath 'n kritieke hanteerfout begaan het.

Kapp se tweede vyfpunter oomblikke later was die finale spyker in Veritas se doodskis. Veritas het wel 'n troosdrie deur Francois Barnard (agtsteman) behaal, net om deur Ulrich Carshagen se drie kort daarna uitgekanselleer te word.

Puntemakers: VISHUIS - Drieë: Dries Ludeke, Niel Kapp (2), Divandré Strydom, Waldo Lategan, Ulrich Carshagen. Doelskoppe: Waldo Lategan, Riaan du Toit (2). VERITAS - Drieë: Johan van Schalkwyk, William de 'Ath, Francois Barnard. Doelskoppe: Charl Schultz (2).

* Vishuis se sege oor Veritas het JBM met 'n bykans onmoontlike situasie gelos; hy moes Heimat met 'n bonuspunt klop en ook met 32 punte seëvier.

Dit was gou duidelik dat dit 'n paar tree te ver sou wees vir 'n moedige JBM-span.

Heimat het die hele wedstryd voorgeloop en reeds in die 13de minuut sy eerste drie behaal toe Francois Crous (senter) gaan druk het.

Mindus Crous (losskakel) het sy eie lugskoppie opgevolg en sy broer Francois aan die binnekant gevind wat afgerond het. JBM was nie sleg nie, sy lynstane en skrums was immers baie goed, hy het maar net nie die skietgoed gehad om Heimat se verdedigingslinie te oorbrug nie.

Puntemakers: HEIMAT - Drieë: Francois Crous, Hansie Moolman. Doelskoppe: Mindus Crous (2). Strafdoele: Crous (2). JBM - Strafdoel: Nakkie Holtzhausen.

* Armentum het danksy 'n drie in die doodsnikke van sy wedstryd teen Karee tot die eindstryd van die plaat deurgedring.

Hy kom daar teen JBM te staan. Sake was gelyk 17-17 voordat Armentum se vleuel, Andi Wolmarans, sekondes voor die einde die wendrie gaan druk het.

Puntemakers: ARMENTUM - Drieë: Niekie Potgieter (2), Andi Wolmarans. Doelskoppe: Stefan Terblanché (2). Strafdoel: Terblanché. KAREE - Drieë: Nico Venter (2), Jacques van der Heever. Doelskop: Danie Schoeman.

Deur Ruan Bruwer