Kritzinger reg vir 'Baa-baas' stryd
Baie is Maandag in Port Elizabeth op die spel wanneer Armentum (Kovsies) en Barbarians (NMMU) mekaar aandurf in die Steinhoff Koshuisrugby Kampioenskap.
Die wenner van hierdie kragmeting sal eerste in daardie afdeling eindig om aan hom 'n tuis-halfeindstryd te verseker wanneer hy die span wat tweede in die noordelike-seksie eindig, aandurf.
Armentum het reeds twee oortuigende seges oor Majuba en die Cobras behaal. Een van Armentum se vele sterkpunte in hul vroeë sukses, blyk hul diepte in spelersgetalle en gehalte van hierdie spelers te wees.
Spelers wat vir beseerdes moes instaan, het almal 'n impak gemaak en een hiervan wat sy kans met albei hande aangegryp het, is losskakel Inus Kritzinger.
Hierdie 19-jarige bourekeningkunde-student, was nie aanvanklik sy span se eerstekeuse losskakel nie, en het slegs teen Majuba vir Reinhart Erwee ingestaan wat in daardie stadium buite aksie met harsingskudding was.
Toe Erwee egter weer reg was om te speel, moes hy en vier ander Armentum-spelers aan die span onttrek word aangesien hulle nie meer inwonders van die koshuis is nie; soos die kompetisie-reëls vereis nie.
Die gevolg was dat Kritzinger die Donderdag voor Armentum se wedstryd teen die Cobras in kennis gestel is dat hy die belangrike nommer-tien trui moet dra; iets wat hy met onderskeiding gedoen het.
Nie net het hy twee keer agter die Cobras se doellyn gaan kuier nie, hy het ook akkuraat (3/3) pale toe gekorrel toe hy later in die wedstryd die stelskopwerk by Jannie Myburgh oorgeneem het.
Kritzinger het die week vantevore met vyf van sy sewe pogings geslaag en het nou reeds 28 punte in die twee kragmetings aangeteken. Wat egter die meeste indrukwekkend is, is die feit dat hy baie onlangs eers losskakel begin speel het.
Hy het op skool (Hoërskool Wilgerrivier in Frankfort) skrumskakel gespeel, waar hy ook verlede jaar vir die Vrystaat Onder-19 span diens verrig het.
"Dit was aanvanklik 'n groot aanpassing, maar dit gaan nou met elke game al hoe beter. Die span het my in die oorgang ook baie gehelp."
Kritzinger, wat twee jaar vir die Griffons-akademiespan op skool gespeel het, sê hy van die bal in die hand.
"Ek speel graag aanvallende rugby en probeer gate in my teenstanders se verdediging te ontbloot.
"Ek sal egter graag ook aan my visie op die veld wil verbeter en nog aan my balverspreiding skaaf," het hy gesê.
Kritzinger is vas oortuig Armentum kan die beker wen. "Verseker, ons spangees is nou baie goed en almal is positief oor ons kanse. Ek dink ons kan dit doen."
Deur Ruan Bruwer