Laaste kans om te beindruk

'n Paar randspelers van Steinhoff Vishuis kry Maandag 'n laaste kans om hul afrigter te beïndruk wanneer hulle teen Steinhoff Madibaz (NMMU) te staan kom. Dis die laaste ronde van die 2010 Steinhoff Koshuisliga en Jan Earle, afrigter, hoop om ná Maandag te weet wat sy beste span is wat die volgende week in die halfeindronde in aksie sal wees.

Vishuis - van Shimlas - is reeds seker van 'n plek in die halfeindronde en benodig net een ligapunt uit die wedstryd om 'n tuis-halfeind te verseker.

Earle het Erick Colyn van binnesenter na losskakel geskuif en begin weer met Francois van Straaten op Nr.12. Die res van die agterlyn bly onveranderd van die een wat Tornadoes (Ikeys) 39-5 kafgedraf het.

Voorlangs het Henry van Niekerk (vasskopstut) sy knie teen Nadoes beseer en die kanse is skraal dat hy weer in die kompetisie in aksie sal wees.

Gelukkig vir Vishuis is daar baie diepte onder die stutte. Earle het, soos teen Dagbreek, vyf voorspelers op die bank gekies en hoop om hulle in die tweede helfte met vrug aan te wend.

"Ek glo ons sterk punt lê steeds by ons agterspelers. Ons wil maar die bal agterlangs rondgooi. Ek sal net graag wil sien dat hulle tot hul volle potensiaal speel, want ons agterhoede het al gewys dat hulle uiters gevaarlik op die aanval kan wees," het Earle gesê aan varsitycup.co.za.

Hy gee toe dat sy boytjies te oorgerus in hul voorbereiding vir die Tornadoes-wedstryd was. "Ek dink nie dit sal weer die geval wees nie. Die spelers besef dat hulle nog nie die kampioene is nie en dat harde werk nog op ons wag.

"Ons het baie aandag aan ons lynstane gegee wat teen Tornadoes 'n probleem was. Bulletjie (Martin Ferreira) het eers 'n week voor daardie wedstryd saam met ons begin oefen omdat hy in Shimlas se groep was.

"Ons het ons lynstane teen ons tweede span geoefen, so ek voorsien nie dat dit weer 'n probleem sal wees nie."

Earle sê hy hoop Vishuis kan teen die span van die Baai op hul samespel, hanteerwerk, dissipline en verdediging verbeter.

Die Steinhoff Vishuis span: 15 AJ Coertzen, 14 Bennie Pretorius, 13 Barend Landman, 12 Francios van Straaten, 11 Beyers Louw, 10 Erick Colyn, 9 Enrico Acker, 8 Gerhard Meyer, 7 Jos de Klerk (kaptein), 6 Eben van Zyl, 5 Jaco Lamprecht, 4 William Clift, 3 JP van Rooyen, 2 Martin Ferreira, 1 Micheal van Vuuren.
Plaasvervangers: 16 Cobus van der Westhuizen, 17 Richard Harris, 18  JC Astle, Milo Moholo, 19  Ryno Fourie, 20 Francios van Straaten, 21 Skillie Fransman, 22 JJ Jansen.

Hoofafrigter: Jan Earle

Datum: Maandag, 15 Maart
Afskop: 5nm
Plek: Shimlapark

Deur Ruan Bruwer