'Maroela kan dit nog doen!'
Die padjie is baie steiler ná Saterdag se 15-30 nederlaag teen Dromedaris (UJ), maar Maroela se afrigter, Etienne van der Merwe, glo steeds dat sy span die uitspeelronde van die Steinhoff Koshuisrugby Kampioenskap kan haal.
"Ons laaste groepwedstryd is aanstaande Maandag (Maart 16) teen Monitor (TUT) en ons moet dit nie net wen nie, maar ver ook omdat punteverskil die deurslag kan gee in wie die tweede span is wat die halfeindronde haal," het Van der Merwe Maandag gesê aan varsitycup.co.za.
"My voorgevoel is dat Dromedaris eerste sal eindig en ons, Over de Voor (Pukke) en Monitor sake om die tweede plek sal moet uitspook."
Volgens hom sal Maroela vandeesweek al die klem op fiksheid en vaardigheid by hul ofeninge laat val, want dit is wat nodig gaan wees om die telbord teen Monitor aan die rol te hou.
"Die groot troos van ons vertoning teen Dromedaris is dat ons nie weer só swak sal kan speel nie. Ons het vir niks lus gelyk nie en by wyse van spreke was ons op die veld, maar ook nie.
"Dié lusteloosheid het regstreeks daartoe gelei dat ons nie ’n drie kon druk het nie," het Van der Merwe bygevoeg.
Hy verkwalik die senior spelers die meeste vir die nederlaag teen Dromedaris omdat dit juis hulle was wat die ergste kleigetrap het.
"Elke senior speler weet tot watter mate hy die span in die steek gelaat het en wat hom te doen staan om hiervoor te vergoed," meen Van der Merwe.
Adriaan Potgieter het al Maroela se punte met vyf strafdoele aangeteken.