Vishuis nommer een in Bloem

Die gewag is verby. Ná 26 jaar is Vishuis weer Kovsies se voorste rugbyspan. Hulle het Vrydagaand die Steinhoff Kovsie Koshuisliga met 'n naelskraapse 15-11-sege in die eindstryd teen Heimat gewen.

Die wedstryd het al die bestanddele van 'n eindstryd gehad; spanning; naelbyt; kliphard en genadeloos.

Hoewel daar maar min tussen die spanne op die aand te kies was, was dit Vishuis wat hul foute tot die minste beperk het om die trofee omhoog te hou.

Heimat kon net sowel as kampioen gekroon word, maar 'n oorwinning het hulle op die aand ontwyk. Hulle het met 'n reuse-aanslag in die laaste tien minute begin en Vishuis moes keer met alles wat hulle het.

By twee geleenthede is 'n Heimat-baldraer in Vishuis se doelgebied opgehou en dis eintlik net wonderbaarlik dat Heimat nooit nie wendrie kon behaal nie.

Dit het gelyk of Heimat die wedstryd verseël het met Hansie Moolman (slot) wat oor die doellyn gebars het, maar die skeidsregter het beslis hy is opgehou en 'n lewenslyn is aan die wenspan gegee.

Een aspek waar Vishuis sonder twyfel die oorhand gehad het, was in die skrums. Hulle het Heimat 'n paar keer letterlik van hul voete af geskrum.

Dis was egter Heimat wat die eerste slag geslaan het. Nielbert Kitching, wat op heelagter 'n uitstaande wedstryd vir Vishuis gehad het, het sy eie lugskoppie opgevolg, die bal wyd versprei, wat Daniël Krynauw (regtervleuel) in staat gestel het om in die regterkantste hoekie oor te duik.

Die gelykmaker is in die 17de minuut deur Vishuis se Waldo Lategan (heelagter) behaal. Vishuis se besluit om kantlyn toe te skop eerder as na die pale, het vrugte afgewerp met Lategan wat netjies afgerond het.

Jan du Toit (senter) se doelskop was in die kol en hy het ook 'n verdere strafdoel vir 'n 10-8-voorsprong in rustyd behaal.

Waar Vishuis die meeste van die aanvalswerk in die eerste helfte gedoen het, was die skoen aan die ander voet ná die omdraaislag. Tog het Vishuis een van hul min kanse om punte te behaal goed benut.

Riaan du Toit, Vishuis-skrumskakel, het 'n vinnige tikskoppie geneem en Divandré Strydom, wat Dries Ludeke ná halftyd vervang het, weggestuur. Strydom het soos Lategan goed gedoen om af te rond.

En dit was so hittete of Heimat het dadelik geantwoord. André Malherbe (Heimat-buitesenter) het sy eie skop opgevolg, maar met die aftrap na binne sy balans verloor en die beweging het skipbreuk gely. Malherbe se naam verdien ook vermelding. Hy het 'n paar keer mooi gebreek en dit het op 'n kol vier verdedigers geneem om hom grond toe te bring.

Die speler van die wedstryd, Martin Ferreira (agtsteman), het nie net puik met sy kraglopies gevaar nie, sy verdediging in die laaste klompie minute was deurslaggewend tot sy span se sege.

Benewens Vishuis se sterk skrumwerk het hulle hul lynstane ook goed afgewissel, met veral Charl du Toit (flank) wat 'n groot bron van lynstaanbesit was.

Nelis Eksteen, agtsteman, het weer vir Heimat goed gerank.

* JBM het die plaat-eindstryd teen Armentum - verlede jaar se Koshuis kampioene - 23-16 gewen.

Puntemakers - Vishuis teen Heimat (Koshuis Finaal): Vishuis 15 (10), Heimat 11 (8). VISHUIS - Drie: Waldo Lategan, Divandré Strydom. Doelskop: Jan du Toit. Strafdoel: Jan du Toit. HEIMAT - Drie: Daniël Krynauw. Strafdoele: Mindus Crous (2).
 
Die voorste puntemakers in die koshuisliga was:
(Drieë, doelskoppe, strafdoele, skepdoele en totaal.)
Mindus Crous (Heimat) - 2, 19, 16, 0, 96
Stefan Terblanché (Armentum) - 0, 10, 13, 1, 62
Roelof Joubert (JBM) - 4, 6, 8, 0, 56
Cobus van der Westhuizen (Vishuis) - 0, 10, 10, 0, 50

Voorste driedrukkers:
Dries Ludeke (Vishuis) - 7
Daniël Krynauw (Heimat) - 5

Deur Ruan Bruwer