Arende wedstryde 'van groot waarde'

Die twee klipharde opwarmwedstryde teen die SWD Arende kan FNB Tuks van groot waarde in hul Varsitybeker-kragmeting teen FNB UJ wees.

Die wedstryd word Maandag in die Absa Tuks-stadion beslis.

Nollis Marais, FNB Tuks se voorspeler-afrigter, meen die groot, fisieke aggtal van die Arende het 'n verfyning van die wedstrydplan aangehelp.

"Ons sal nie sommer weer dié seisoen teen sulke knewels te staan kom nie, maar ons sal desondanks nie vergeet wat die gevolg is as die teenstanders toegelaat word om hul stempel af te druk nie," het hy aan varsitycup.co.za gesê.

Tuks se wedstrydplan is nie daarop geskoei om voorlangs in 'n gestoei van 80 minute lank betrokke te wees nie, maar eerder om die tempo van die wedstryd op te jaag.

"Ons wil vinnig en wyd speel, wat dit is ons sterkpunt," sê Marais.

"Die aggtal van UJ vergelyk baie goed met dié van UJ en ons weet dus wat hom om voorlangs te verwag. Ons moet toesien dat ons alles die eerste keer reg doen en veral seker maak dat ons nie soveel kritieke besit by die afbreekpunte prysgee nie."

Marais het die versekering gegee dat die sewe veranderinge in die beginspan nie ontwrigtend vir die spangees sal wees nie.

"Wat ek by Woensdagaand se oefening ervaar het, maak my baie opgewonde. Samehorigheid sal beslis nie 'n probleem wees nie."

Deur Morris Gilbert