'Lucky' nommer ses vir Tukkies

'n Sesdubbele rugbystryd wag Saterdag op Loftus Versfeld tussen Tuks en Polisie.

Dié twee klubs het die eindrondes van die Blou Bulle se Premierliga vir alle praktiese gekaap omdat hulle in elk van die ses eindstryde swaarde kruis.

Die hoofdis op die Loftus-spyskaart is die kragmeting tussen die twee eerste spanne - 'n herhaling van verlede jaar toe Polisie in bykomende speeltyd die wenpunte aangeteken ten einde Tuks as Carltonbeker-kampioene te onttroon.

Tuks, wat eerste op die puntelys geëindig het, het tot die eindronde deurgedring nadat hullle die afgelope naweek sonder moeite met Silver Valke afgereken het (62-28). In Polisie se geval is die oorwinning egter eers ná 100 minute, in die doodsnikke minuut van bykomende speeltyd, beklink.

Die doelskop wat Bobbies met TUT gelyk laat trek het (26-26), was genoeg vir 'n plek in die eindstryd. Kragtens die bepalings wat in werking tree wanneer spanne ná bykomende speeltyd steeds gelykop eindig, was Polisie die wenner omdat hy drie drieë teenoor twee gedruk.

Hoewel Silver Valke eerste bloedgeruik en die voortou trouens in die eerste minuut met 'n opportunistiese drie geneem het, was die uitslag van dié wedstryd selde in die weegskaal. Tuks het bloot te veel skietgoed vir hul moedige teenstanders gehad.

In die stryd tussen TUT en Bobbies was daar egter geen sprake van eenrigting-verkeer nie. Dit was naels byt tot in die laaste minuut omdat Polisie hul tweede drie moes verdoel om gelykop te eindig. Hierin verdien die plaasvervanger Dillen Laubscher, wat die stelskopwerk by Chandré Boshoff oorgeneem het, 'n groot pluimpie omdat dit sonder twyfel die belangrikste skop van sy loopbaan was. Hy egter skitterend kopgehou en die moeilike, skuins doelskop sekuur tussen die pale deurgejaag.

Sulke skoppe kan juis Saterdag in die eindstryd die deurslag gee, wat Chandré en Tuks se twee skerpskutters met die skoen, Renier Wiessener en Boeboes Coetzee, vierkant in die kollig sal plaas.

Chandré, Polisie se losskakel, het dié seisoen reeds 120 punte opgestapel. Renier, Tuks se losskakel, het in Boeboes se afwesigheid die stelskopwerk oorgeneem en hom skitterend van sy taak gekwyt deur altesaam 47 punte aan te teken. Teen Silver Valke het hy met al 10 pogings pale toe geslaag.

Boeboes was teen Silver Valke een van die plaasvervangers, wat baie gemoedsrus moes gegee het omdat hy reeds 100 punte vir Tuks 1 in die 2010-seisoen behaal het.

Polisie en Tuks is ook goed verteenwoordig op die lys van voorste driedrukkers. JW Bell, Tuks se linkervleuel, beklee die eerste plek (11) terwyl sy spanmaats, Marius Weber (8), Gertjie Smith, GD Kotzee en Dirk Dippenaar (7), ook stewig geplaas is. Heinrich Rademeyer, Polisie se buite-senter, is sy span se voorste driedrukker (9).

Wat sowel Tuks as Polisie behoort te weet, is dat eindstryde gaan om wie die grootheid van die belangrikste 80 minute van die seisoen die beste kan hanteer. Tuks sal daarom geen noemenswaardige sielkundige voordeel hê omdat hulle met 44-22 teen Polisie in die tweede ronde gewen het nie.

Die hoofwedstryd begin om 16:00.

Die tellings in die onderskeie halfeindstryde, soos verskaf deur Johanna de Vos, was:

Premierliga:
Eerste spanne:
Polisie 26 (3 drieë), TUT 26 (2 drieë); Tuks 62, Silver Valke 28.
Tweede spanne: Polisie 33, Centurion 17; Tuks Fezelas 88, TUT 13.
Derde spanne: Polisie 22, Centurion 19; Tuks Pumas 51, Naka Bulle 12.
Vierde spanne: Polisie 11, Centurion 5; Tuks Legends 25, Harlequins 13.
Onder-21: Polisie 51, TUT 3; Tuks Jongspan 42, Centurion 15.
Onder-19: Polisie 22, Fezelas 17; Tuks 51, TUT 21.

Deur Morris Gilbert