'n Moeilike jaar vir Shimlas

Hoewel die 2009-rugbyjaar nie as een van FNB Shimlas se bestes die afgelope dekade beskou sal word nie, het hulle minstens nou twee bekers in die trofeekas.

Dis aansienlik meer as die afgelope twee jaar toe Shimlapark se trofeekas dolleeg was. Shimlas het vanjaar die eerste keer sedert 2006 die Stadsbeker gewen en sodoende vir die Nasionale Klubkampioenskap in Pretoria gekwalifiseer.

Shimlas het met gemak vanjaar se Stadsbeker gewen danksy 'n 42-17-sege oor Irawas (UV se tweede span) in die eindstryd. Dit het die teleurstelling van die vorige twee jaar in 'n groot mate verdof.

* Ná 'n skoknederlaag in die eerste wedstryd van die klubkampioenskap teen Park (van die Oostelike Provinsie), het die Vrystaters hul volgende drie wedstryde gewen om sodoende die plaat terug huis toe te bring. Hulle het met 13 spelers, wat nog nooit voorheen die blou trui oor die kop getrek het nie, na Pretoria gereis. En slegs vier Shimla-spelers, wat vroeër vanjaar in die Varsitybeker in aksie was, het in Pretoria diens verrig. Shimlas het seges oor Impala (32-21), Kuruman (49-12) en Pretoria-Polisie (29-21) in die eindstryd behaal op pad om die plaat te verower.

* Shimlas kon ondanks die versterking van 'n klompie Curriebeker-spelers steeds nie met die Pukke in vanjaar se intervarsity afreken nie. Die nederlaag van 6-20 was die vyfde agtereenvolgende loesing teen die Puk en dit is ook nou al 12 jaar sedert Shimlas laas 'n intervarsity-wedstryd in Potchefstroom kon wen. Die punteverskil (14) sal ook in die annale opgeteken word as die naas- grootste nederlaag wat die Vrystaters in die 82 jaar van intervarsity gely het.

* Op die Universiteit-sport Suid-Afrika (Ussa) se jaarlikse toernooi was die UV-span onsuksesvol om 'n derde agtereenvolgende jaar as kampioen gekroon te word. Shimlas het in hul eerste wedstryd 'n oorwinning oor die Maties (31-25) behaal, maar het toe teen die Universiteit van Johannesburg (UJ) vasgeval (15-34). 'n Oortuigende sege (49-11) op die laaste dag oor Varsity-kollege van KwaZulu-Natal, het darem die Vrystaters 'n derde plek besorg.

* Shimlas het soos in 2008 weer sesde in vanjaar se Varsitybeker geëindig. Shimlas se beker-aanslag het goed begin met 'n 37-11-sege oor die Nelson Mandela-Metropolitaanse Universiteit (NMMU) in die eerste ronde. Drie loesings teen onderskeidelik die Pukke (15-27), Maties (5-26) en UJ (8-44) het gevolg waarin Shimlas nie een enkele ligapunt kon insamel nie. Dit het hulle met drie kragmetings gelaat waarin die Vrystaters in almal maksimum punte moes kry om moontlik nog tot die uitspeelwedstryde te vorder. Die hoop het opgevlam toe Shimlas in die vyfde week teen die verwagtinge in, oortuigend met Tukkies op Shimlapark afgereken het. Die telling was 39-22 en hierdie was een van die wenspan se beste vertonings in die kompetisie.

'n Naelskraapse nederlaag (20-23) teen die Ikeys 'n week later in Kaapstad, het egter die einde van Shimlas se halfeindstryd-drome beteken. Hoewel Shimlas op 'n positiewe noot geëindig het met sy reuse-sege van 78-22 oor die Tshwane-universiteit van Tegnologie (TUT), was dit nie genoeg om op sy sesde plek (op die punteleer) van verlede jaar te verbeter nie. Tog het die wedstryd teen TUT twee rekords aan Shimlas besorg. Nie net was dit die grootste oorwinning tot nog toe in die kompetisie nie (die vorige rekord was Pukke se 67-14-sege oor UJ verlede jaar), Niël Jacobs (Shimla-binnesenter) se nege doelskoppe was die meeste nóg in 'n Varsitybeker-wedstryd. Hy het 28 punte bygedra wat ook twee drieë ingesluit het. Jacobs het uiteindelik met 60 punte geëindig - op drie ná die meeste in die 2009-kompetisie. Frans la Grange (slot) se vier drieë was die tweede meeste deur 'n speler.

Shimlas se Achilles-hiel was vanjaar sy onvermoë om in die eerste gedeelte van die Varsitybeker voorlangs die oorhand te kry. 'n Ander aspek wat die Shimlas vanjaar duur te staan gekom het, was die gebrekkige korrelwerk pale toe deur sy stelskoppers. In totaal kon die vier stelskoppers wat in vanjaar se reeks pale toe aangelê het, slegs met 22 (uit 42 pogings) van die skoppe slaag. Dit is gelykstaande aan 'n 52%-slaagsyfer, wat benede peil vir enige stelskopper is. Dié 20 verbroude skoppe was altesaam 47 punte wat verlore gegaan het.

* Vier Shimla-spelers, Robert Ebersohn (senter), Sias Ebersohn (losskakel/heelagter), Lionel Cronjé (losskakel/heelagter) en Coenie Oosthuizen (stut) is vir die Suid-Afrikaanse o.20-span gekies wat in Japan aan die o.20-Wêreldkampioenskap deelgeneem het.

Robert Ebersohn was ook een van die Springbok-Sewesspan se gereelde uitblinkers in vanjaar se reeks. Die Blitsbokke het die eerste keer in die tienjarige bestaan van die reeks die titel gebuit. Op die George-toernooi is hy as speler van die toernooi aangewys. Ebersohn was ook die kaptein van die Jong Bokkies. Twee ander Shimlas, Marlin Ruiters (skrumskakel) en Cameron Jacobs (senter), was in die Suid-Afrikaanse Universiteitespan ingesluit wat vroeg in Augustus teen 'n Amerikaanse Universiteitspan in aksie was. Slegs Ruiters het egter speelkans gekry.

* Jaco Swanepoel, breier van die Shimlas, sê dit lyk nie in hierdie stadium of hy te veel spelers vir volgende jaar gaan verloor nie. "Ons het hard gestoei om ons spelers te behou. Net Barry Landman, Roché van der Westhuizen (albei SWD-Arende) en Drew van Coller (Griekwas) is tot dusver deur ander unies gekontrakteer en sal dus nie meer vir ons beskikbaar wees nie. So, vir nou lyk dinge positief."

Swanepoel sê die geheim tot sukses in 2010 is kontinuïteit: "Hoe ons dit gaan bewerkstellig, weet ek nie, maar ons sal 'n groter poging moet aanwend om ons spelers te behou. Ons sal eenvoudig planne moet beraam."

Deur Ruan Bruwer