Naelskraap vir Tukkies

Tuks het die tweede ronde van die Blou Bulle se Carltonliga wel met 'n voltal ingelui, maar die span van Marius Weber het steeds baie stof tot nadenke oor die insinking van daar in die laaste 15 minute in sy spel ingetree het.

Tuks was Saterdag in 'n stadium met 34-9 voor teen Silver Valke, maar moes uiteindelik bloed sweet on met 34-31 te wen. Die rustyd-telling was 24-9 vir Tuks.

Wat Tuks die meeste moet bekommer, is dat twee van die Valke se drie drieë regstreeks deur liederlike blapse aan die studente se kant moontlik gemaak is.

Dit was opmerklik hoe Tuks in die laaste kwartier van die wedstrydplan afgewyk het wat die deur vir die Valke geopen het om so byna 'n reuse-verrassing te lewer.

Tuks se volgende wedstryd is weg teen Naka Bulle (26 Junie) wat met hul oortuigende oorwinning teen Centurion die grootste verrassing van die seisoen gelewer het. Dié Naka-sege (29-12) behoort vir Tuks 'n tydige waarskuwing te wees van wat op hulle wag.

Boeboes Cotezee (heelagter), wat 14 punte met 'n langafstand-drie, strafdoel en drie doelskoppe aangeteken het, is aangewys as Tuks se Agterspeler van die Wedstryd. Voorlangs het dié toekenning aan die slot Peet Bothma gegaan, maar die flank Jacques Verwey kon dit net sowel gekry het.

Punte:

TUKS: Drieë: GD Kotzee, Peet Botma, Francois van Wyk, Hein Viljoen, Boeboes Coetzee. Doelskoppe: Boeboes Coetzee (3). Strafskop: Boeboes Coetzee.

SILVER VALKE: Drieë: Dawie Kemp, Rickus de Beer, Shaun Kitching. Doelskoppe: Jurie van Niekerk (2). Strafskoppe: Jurie van Niekerk (2). Skepskoppe: Gerhard du Preez, Rickus de Beer.

Deur Morris Gilbert