Rudy nie heeltemal tevrede nie

Ondanks 'n goeie 35-24-sege oor Tukkies in Maandagaand se FNB Varsitybeker aangebied deur Steinhoff International-wedstryd was die NWU-Pukke se breier nie heeltemal tevrede nie.

Afrigter Rudy Joubert sê sy span het swak rugby in die derde kwart van die wedstryd gespeel toe Tukkies binne 15 minute 'n 7-21 agterstand in 'n 24-21 voorsprong omskep het.

Boonop was die wenspan tot 14 spelers beperk met Thabo Molete (agtsteman) wat koelkas toe gestuur is vir 'n laat duikslag.

"Ons het nie gekonsentreer nie en te gereeld balbesit weggeskop, eerder as om dit in die hand te hou. Ons kon nie ons eerste fase balle wen nie en ons verdediging was ook in daardie tydstip baie swak gewees," het hy verduidelik aan varsitycup.co.za.

Hy het wel sy tevredenheid met die vier drieë vir 'n bonuspunt uitgespreek.

Pukke het verskeie (ses in totaal) geleenthede pale toe van die hand gewys en eerder die kantlyn opgesoek om die drieë te druk.

"Ja ek is tevrede, dit was ons doelwit om spesifiek vier drieë te druk," he hy gesê. "Ek was nie juis bekommerd toe Tukkies die voortou geneem het nie, maar eerder dat ons nie ons kanse gebruik het nie.

"Ek dink ons kon, en moes, vroeër heelwat drieë gedruk het wat ons toe eerder verbrou het."

Hy sê die hoogtepunt van die aand was sy span se kragtige skrumvertoning waarme hulle die span van Pretoria gereeld op die agtervoet gehad het.

Dewald Coetzee (losskop) het hier baie goed gevaar en getoon dat hy Jaco Koch se skoene kan volstaan. Koch het verlede jaar gereeld sy teenstanders harde bene in die skrums laat kou, maar moes aan die begin van 2010 sy uittrede weens 'n erge nekbesering aankondig.

Joubert sê hoewel sy spelers goed by die nuwe vertolking by die afbreekpunt aangepas het, vermoed hy dit gaan nog 'n hele rukkie wees voor die spelers daarmee vertroud gaan word. "Ons het redelik aangepas, maar die probleem bly egter dat skeidsregters die reëls verskillend toepas."

Die enigste ongeval Maandagaand was die vleuel Danie Dames wat in die eerste helfte knieligamente beseer het.

"Hy sal tussen vier en ses weke buite wees," het Joubert laat blyk.

Deur Ruan Bruwer