'Shadow' reg vir Super 14
Gerhard van den Heever se 2009 Varsitybeker is dalk verby! Want hy trek Saterdag 'n Bulls Super 14-trui oor sy kop teen die Stormers en staan groot skoene vol wanneer hy niemand anders nie as Bryan Habana se plek inneem.
Die jong vleuel wat verlede jaar in die openingswedstryd van die FNB Varsitybeker aangebied deur Steinhoff International soos 'n skaduwee deur die Matie-verdediging gesny het om een van die grootste 'comebacks' in die geskiedenis van rugby te begin, was niemand anders nie as 'Shadow', oftewel Gerhard van den Heever.
Hoewel sy bynaam 'Shadow' niks te doen het met die feit dat hy so vinnig op die rugbyveld is dat mens net sy skaduwee sien verbygaan nie, is dit wel hoe dié opwindende Tukkie-vleuel sy rugby speel.
Hy is 'n SA-atleet wat enige dag saam met Bryan Habana en Pierre Spies oor 50-meter kan saamgesels en juis omrede hy 'n lekker groot seun is het die keurders gevoel hy is reg vir Super 14-rugby.
Die bynaam het in 2007 sy ontstaan gehad waar 'n spanmaat by die Blou Bulle se Onder-19s, die heelagter Gerhard van der Merwe, op 'n druppel water net soos Van den Heever gelyk het.
"Die ouens het ons begin spot dat ons so baie na mekaar gelyk en gesê ek is Gerhard se skaduwee. Sedertdien is dit maar my bynaam," verduidelik hy.
Van den Heever het die rugbypuriste aan die praat oor sy spoed en veral daardie systap waarmee hy twee Matie-verdedigers na lug laat gryp het. Dit is moeilik om te glo dat hy twee jaar terug nog op die skoolbanke aan Affies was waar hy in 2007 sy matriek geskryf het.
2007 is ook die jaar waarin hy vir die Blou Bulle se Onder-19s Curriebeker-rugby op vleuel uitgedraf het. En vanjaar is hy 'n volbloed gekontrakteerde Blou Bul-speler.
Hy is aan van die begin van die jaar aangeraai om uit te probeer vir Tukkies se proewe en was werkik verbaas toe hy vir die eerstespan gekies is.
Dié talentvolle speler het twee jaar Cravenweek op skool gespeel en sonder die wedstryd tussen Affies en Grey in sy Graad 11 jaar uit as die hoogtepunt van sy rugbyloopbaan tot dusver. Dit was tot en met die wedstryd teen Maties verlede jaar.
Sy vertoning het ook net weer bewys dat spoed nie gekoop kan word nie en waarskynlik die rede vir sy insluiting in die Bulls se span is.
'Shadow' vertel dan ook sommer terloops dat hy op skool die SA rekord in hekkies verbeter het.