Swanepoel soek meer antwoorde

Jaco Swanepoel, Shimlas-afrigter, hoop om ná Dinsdag se oefeningswedstryd teen die Universiteit van Johannesburg (UJ) op Kroonstad meer antwoorde op 'n klompie vrae te kry.

Shimlas het Saterdag 'n oefenwedstryd teen Tukkies in Bloemfontein gespeel waar die doel uitsluitlik op wedstrydoefening vir die spelers was.

Swanepoel kon basies sy hele groep spelers speelkans gee om sodoende die koring van die kaf te skei. Hy moet ná Dinsdag se wedstryd op Kroonstad sy groep heelwat sny, maar sê dit gaan nie maklik wees nie.

"Daar is maar heelwat spelers van ewe goeie kwaliteit. Hopelik sal die wedstryd teen UJ vir my 'n beter aanduiding gee," het Swanepoel gesê aan varsitycup.co.za.

Volgens Swanepoel was die verblyfste aspek ná Saterdag dat hy vanjaar groter diepte onder sy voorspelers gaan hê.

"Ek was ook gelukkig met ons skrums en verdediging. Die nuwe spelers moet maar net eers gewoond raak ons aan verdedigingspatroon."

Volgens hom sal dit makliker wees wanneer die groep verklein word om individuele aandag te gee. "Dis maar moeilik met 'n groot groep, maar ons sal binnekort kan begin fokus op posisies soos die hakers se ingooie in die lynstaan wat teen Tukkies nog so 'n bietjie gelol het," het hy gesê.

Deur Ruan Bruwer