Tuks behaal rekordsege in eindstryd
Tukkies sal die Blou Bulle aanstaande maand by die SAA Nasionale Klubtoernooi in Stellenbosch verteenwoordig.
Die vlagskip van UP-rugby het Saterdag op Loftus Verfsfeld sy grootste oorwinning tot nog toe teen Polisie in die eindronde van die reeks om die gesogte Carltonbeker behaal.
Tuks het die verdedigende kampioen met 49-23 kafgedraf en ses drieë teenoor twee gedruk.
Die eintelling vertel egter nie die hele verhaal nie, want Polisie het Tuks in die eerste helfte met die rug teen die muur gehad en was rustyd trouens met 20-18 voor.
In die tweede hellfte was dit egter Tuks wat die pas aangegee het. Die wenspan het die laaste helfte net so goed afgesluit as wat hulle dit begin het: met twee doele.
Die 14 punte in die eerste kwartier van die tweede helfte het Tuks met 32-20 laat voorloop voordat Polisie die agterstand met hul enigste punte, 'n strafdoel, laat krimp het.
Tuks het enige twyfel oor die uitslag egter in die laaste drie minute uit die weg geruim toe hulle twee drieë gaan druk het.
Tuks se hele span verdien vermelding vir nie net 'n uitstekende eindstrydsege nie, maar ook 'n merkwaardige seisoen waarin die UP-studente 13 van hul 16 wedstryde gewen het, in twee gelykop gespeel het en net een verloor het.
Soos in enige eindstryd, was daar egter dié spelers wat vir spesiale vermelding gekwalifiseer het. Voorlangs het die slot Peet Bothma, die flank Louis van Biljon en die agtsteman en kaptein, Marius Weber, sprankelspel gelewer.
In die agterlyn was die puik posisionele spel en persoonlike bydrae van 24 punte van die senter Gerrit Smith van onskatbare waarde. Die vleuel JW Bell het met twee drieë toegesien dat hy die seisoen afsluit as die voorste drie-drukker in die reeks (13). Ook Shaun Davids het op heelagter puik spel gelewer.
Puntemakers:
TUKS: Drieë: JW Bell 2, Corné Fourie, Marius Weber, Poerie van Rooyen, Gerrit Smith. Doelskoppe: Gerrit Smith 5. Strafskoppe: Gerrit Smith 3.
POLISIE: Drieë: Michael Nienaber, Heinrich Rademeyer. Doelskoppe: Chandré Boshoff 2. Strafskoppe: Chandré Boshoff, Warick Curry, Dillon Laubscher.
* Tuks het ook in vier van die vyf ander Premierliga-eindstryde die botoon gevoer.
Die uitslae is:
Tweede spanne: Polisie 46 Tuks Fezelas 32
Derde spanne: Tuks Pumas 30 Polisie 19
Vierde spanne: Tuks Legends 43 Polisie 12
Onder-21: Tuks Jongspan 40 Polisie 35
Onder-19: Tuks A 26 Polisie 6
Deur Morris Gilbert