Tuks kan kaarte deurmekaar krap
FNB Tuks mag wel enige realistiese aanspraak op 'n plek in die halfeindronde van die FNB Varsitybeker aangebied deur Steinhoff International kwyt wees, maar Shaun Davids en sy troepe kan die kaarte steeds deurmekaar krap in die laaste groepwedstryde van die 2010-reeks.
Tuks het gisteraand met 23-27 teen FNB Shimlas verloor wat 'n einde gemaak het aan hul 2010 halfeindronde-drome. FNB Tuks het in in die eerste twee jaar van die reeks nog elke keer onder die voorste vier spanne geëindig.
Tukkies se laaste wedstryd is Maandag in Kaapstad teen die Ikey Tigers wat vir die eerste keer dié seisoen na die derde plek op die puntelys afgeskuif het. Vir die FNB Ikeys is daar dus baie op die spel, want 'n voltal teen FNB Tuks kan 'n tweede plek en gepaardgaande tuiswedstryd in die halfeindronde verseker.
Hulle is in die "bevoorregte" posisies dat hulle soveel meer as die Ikeys kan wag nadat hulle ná die nederlaag teen die FNB Pukke in die openingsronde deurlopend onder druk was.
"Ons is wel uit die wedloop, maar kan baie verlore aansien herwin indien ons die FNB Ikeys op hul tuisveld klop. Ons gaan beslis nie Kaap toe net om ons laaste bepaling van die seisoen af te handel nie," het TuksRugby se tegniese direkteur, Blikkes Groenewald, aan varsitycup.co.za gesê.
Volgens Groenewald kan FNB Tuks se swakste FNB Varsitybeker-seisoen nóg die beste saamgevat word as een van "as, maar en moes".
"Ons moes meer wedstryde gewen het, maar was elke keer ons eie grootste vyand omdat ons bloot te veel met rukke en stote gespeel het, soos weer gisteraand teen Shimlas.
"Ons kon en moes gewen het, maar basiese foute soos swak besluitneming en taktiese skopwerk het ons nogmaals gepootjie. Ons grootste enkele tekortkoming is dat ons 'n span van uiterstes is - ewe goed as sleg in dieselfde 80 minute," het Groenewald bygevoeg.
Deur Morris Gilbert