Tuks maak gereed vir Valke

Vir FNB Tuks, wenners van die eerste ronde van die Carltonliga, klap die eerste skote in die tweede ronde eers Saterdag wanneer die houers van die Lucas Strachanskild in 'n wegwedstryd teen Silver Valke te staan kom.

Tuks moes die afgelope naweek teen Pretoria gespeel het, maar dié wedstryd het nie plaasgevind omdat die Blou Bulle Rugby-unie eers moet uitsluitsel gee oor die dispuut wat die oudste klub se Carltonstatus regstreeks bedreig.

Hoewel Tuks die enigste span is wat die uitklopronde onoorwonne afgesluit het, word geen ligapunte na die tweede ronde oorgedra nie wat beteken dat al die spanne weer op nul begin.

Dit laat min ruimte vir glipse en daarom sal Tuks met 'n slag wil wegspring. In die uitklopronde het Tuks nie teen die Silver Valke oortuig nie en net drie drieë in die oorwinning met 21-13 gedruk, maar Saterdag is 'n voltal ononderhandelbaar.

Tuks durf die tweede ronde sonder etlike van sy staatmakers aan, onder wie die kaptein, Marnus Schoeman, wat 'n seker keuse vir die Bulle se o.21-span is. Marius Weber, Tuks se gereelde agtsteman, klop die hardste aan die deur om die kapteinskap by Schoeman oor te neem.

Ander spelers wat vanweë Ligblou-verpligtinge dalk nie vir Tuks sal kan speel nie, is die skrumskakel Wesley Moolman, die flank Willie Nel, die heelagter Justin van Staden en die stut Frik Kirsten.

Nollis Marais, Tuks se afrigter, het aangedui dat hy nie veel wil verander aan die span wat in die Lucas Strachanskild-'eindronde' met Centurion afgereken het.

"Ons moet nou hou by die kerngroep-spelers wat vir ons 'n plek in die halfeindronde sal verseker. Jy bou boonop momentum en deurlopendheid op deur suinig met veranderinge aan jou 22-tal te wees," het Marais bygevoeg.

Tuks finaliseer sy span môre.

Deur Morris Gilbert